Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley moet meer as R4,5 miljoen aan een van sy werknemers betaal nadat sy deur ’n onbekende man verkrag is terwyl sy aan diens was.
Regter Mpho Mamosebo het ook ’n aansoek van die munisipaliteit om verlof tot appèl teen haar uitspraak in 2020 oor die meriete van die saak van die tafel gevee.
Die munisipaliteit moet ook die regskoste van die eis en die koste van vier deskundiges wat namens die vrou getuig het, betaal.
Die eis van dié algemene assistent spruit uit gebeure toe sy op 20 November 2017 in die omgewing van Ruby- en Jadestraat in Gemdene oorval en in bosse verkrag is. Sy was op pad om goedere te gaan haal, soos wat haar pligtestaat vereis het.
Sy was weens die emosionele trauma twee jaar met siekteverlof. Luidens die uitspraak ly die vrou steeds aan hallusinasies, kry nagmerries, het sy haar onttrek en wil nie haar huis verlaat nie. Haar huwelik is op die rotse, sy word gou kwaad en geïrriteerd en is voortdurend bekommerd oor haar kinders en familie.
Sy ly aan posttraumatiese stresversteuring en het al ses keer probeer om met ’n oordosis medisyne selfdood te pleeg. Luidens die deskundige getuienis sal sy met psigiatriese behandeling voortgaan en vir sowat tien jaar nie in diens geneem kan word nie. Mamosebo sê weens haar swak geldelike situasie en om vir haar kinders te sorg, is sy gedwing om na dieselfde werksituasie terug te keer.
Haar lewe is deur die verkragting omvergegooi en haar lewensgenietinge beperk; ook bevordering in haar loopbaan. In die byna ses jaar sedert die voorval was daar ’n verswakking in haar mediese toestand.
Oor die munisipaliteit se aansoek om drie jaar later teen haar uitspraak oor die meriete van die eis te appelleer, het Mamosebo bevind die munisipaliteit het geen vooruitsig om met ’n appèl te slaag nie, met geen dwingende rede vir ’n appèl om aangehoor te word nie.
Adv. Henco de le Rey het in opdrag van Yolandi Vosloo van Honey-prokureurs vir die eiser opgetree. Stephen Groenewaldt van Towell en Groenewaldt-prokureurs het vir die munisipaliteit opgetree. Die verkragter, vermoedelik ’n Lesotho-burger, is nog nie aangekeer nie.


