Motoriste in die Kalahari-gebied is gewaarsku om versigtig te wees nadat drie plekke hier as brandpunte vir motorkapings identifiseer is.
Volgens die voertuig-opsporingsmaatskappy Tracker, is Lime Acres, Dikhing naby Kuruman en die Moeswaal-opstal naby Olifantshoek die plekke waar die meeste kapings in die Noord-Kaap plaasvind.
Tracker sê sy syfers toon dat motordiefstal en -kapings vanaf Julie verlede jaar tot Junie vanjaar oor die land heen toegeneem het en geensins gedurende die inperking afgeneem het nie.
Motorkapings was soos in die vorige jaar weer die meeste in Gauteng.
Die Noord-Kaap het volgens Tracker die minste kapings.
Volgens die jongste misdaadstatistiek is daar 34 motorkapings in die provinsie aangemeld.
In April het voertuigverwante misdade oor die land heen met sowat 81% gedaal, maar in Mei met 62% gestyg en in Junie met 93%.
Tracker sê die jongste data dui daarop dat die tye wanneer kapings plaasvind, verander het.
’n Jaar gelede het die data getoon dat die meeste motorkapings op Vrydae tussen 11:00 en 13:00, en tussen 20:00 en 23:00 plaasgevind het. Tracker merk egter op dat kapings nou die hele week voorkom.
Die meeste voorvalle vind Dinsdae tot Saterdae plaas en verminder effens op Sondae en Maandae.
Tye wanneer die misdade aangemeld word, het ook verander na tussen 11:00 en middernag.
Intussen word motordiefstal hoofsaaklik oor naweke en in middagete rapporteer.
Gyselaarneming is steeds ’n daaglikse gebeurtenis en bly ’n groot kommer, sê die maatskappy.
Verdere misdaadneigings wat deur Tracker opgemerk word, is ’n merkbare toename in voertuie wat vir hul vrag geteiken word, veral kosprodukte en verbruikersgoedere.
Motoriste word ook van hul waardevolle items beroof en in sommige gevalle van groot bedrae kontant.
Tracker se pogings om voertuigverwante misdade te bekamp, het gelei tot die terugkry van 5 447 voertuie en 39 vuurwapens, en 819 inhegtenisnemings, sê die maatskappy.