Motor bars deur ruit

’n Motorhandelaar van Kimberley is geskok gelaat nadat hy Sondagnag (16/01) ’n oproep ontvang het dat ’n voertuig deur die vertoonvensters van sy motorhandelaarskap gery het.


’n Motorhandelaar van Kimberley is geskok gelaat nadat hy Sondagnag (16/01) ’n oproep ontvang het dat ’n voertuig deur die vertoonvensters van sy motorhandelaarskap gery het.

Dit is die eerste keer ooit dat dit gebeur, sê Neels du Plooy, eienaar van Supercars. Hy besit dié winkel sedert 2007.

“Die motoris het oor twee sypaadjies, ’n verkeerseiland en twee dubbelbaanpaaie gery voordat die voertuig teen my winkel tot stilstand gekom het. Hy het beserings aan sy bene en voete opgedoen, en is per ambulans na die hospitaal gebring.”

Hy sê die ongeluk het Sondag voor 01:00 gebeur. Du Plooy het hom na die toneel gehaas.

“Die bestuurder het waarskynlik teen ’n hoë spoed van Blackstraat se kant in Longstraat se dienspad gery. Die bestuurder het na bewering beheer verloor en oor die sypaadjie, die een dubbelbaan van Longstraat, die middelman, oor die ander dubbelbaan en oor die sypaadjie beweeg voordat hy teen my winkel tot stilstand gekom het. Hoewel die sypaadjies en middel­mannetjie sy spoed gebreek het, was daar nog genoeg momentum om teen my winkel vas te ry.

“Die motor het die geteëlde steenmuurtjie onder die swaar vensters omgestamp. Die versterkte glas het op sy motor geval. Van die skerwe glas en bakstene het in die vertoonlokaal gespat en skade gerig aan motors wat te koop is. Die splinters en skerwe het ook teen die motors se bakwerk gespat.”

Du Plooy is nog onseker oor die omvang van die skade wat aangerig is. Met behulp van ander mense het hy Sondag sy beskadigde winkel so goed moontlik probeer beveilig.

“Intussen sal ’n venster­maatskappy en bouers my bystaan om die skade te bereken en te bepaal wat die herstelwerk behels. Ek is gelukkig ten volle verseker teen skade aan die gebou en aan my voorraad motors.”

Skerwe glas en bakstene het in die vertoonlokaal gespat.

You need to be Logged In to leave a comment.