Die saak van Daniel Wilfred Alberts (38), wat onder meer van die moord op twee lede van die blitspatrollie in Kimberley aangekla is, is na 29 Januarie vir verdere sielkundige waarneming uitgestel.
Alberts wat op Donderdag 5 Oktober virtueel en vlugtig in die landdroshof in Kimberley verskyn het, word van die moord op sers. Kediemetse Masilo en konst. Okaetse Mandindi aangekla.
Hy het op 24 Augustus in die hof verskyn op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, en die diefstal van ’n sedanvoertuig en ’n skootrekenaar.
Alberts is op 22 Augustus in hegtenis geneem nadat Masilo en Mandindi ná ’n wilde jaagtog op die Transnet-perseel in Kimberley doodgeskiet is.
Tydens sy eerste hofverskyning het landdros Leon Blaauw hom vir sielkundige waarneming vir een dag gestuur.
Na aanleiding van die verslag wat uit die waarneming saamgestel is, het Blaauw Donderdag gelas dat Alberts vir ’n verdere 30 dae waarneming gestuur word.
Alberts het met sy eerste hofverskyning aangevoer dat hy ’n psigiatriese pasiënt is wat voorheen in 27 psigiatriese inrigtings opgeneem was.
Hy het tydens die eerste hofverskyning aangedui dat hy nie om borgtog gaan aansoek doen nie, en bly in aanhouding.


