Die man wat onder meer van die moord in 2023 op twee blitspatrollielede van Kimberley verdink word, het op Maandag 10 Februarie verward gelyk waar hy ineengedoke in die beskuldigdebank op die eerste dag van sy verhoor in die hooggeregshof in Kimberley gesit het.
Daniel Wilfred Alberts (40) se verhoor is egter na 18 Maart uitgestel omdat sy regsverteenwoordiger die gerekende dr. Gerard Labuschagne, forensiese sielkundige, wil raadpleeg oor die sielkundige verslae van Alberts wat die staat bekom het nadat hy vroeër in die Noord-Kaapse psigiatriese hospitaal waargeneem is.
Hulle wil ook die toetsuitslae van bloed- en urinetoetse wat op die dag van sy inhegtenisneming geneem is, bestudeer.
Hy word in die gesig gestaar deur 12 aanklagte wat insluit moord, ontvoering, diefstal, roof, roof met verswarende omstandighede en roekelose bestuur. Uit die opsomming van wesenlike feite in die akte van beskuldiging, blyk dit Alberts was tydens sy beweerde gewelddadige misdade nie beteuterd nie.
‘Opgetree met voorbedagte rade’
Die staat voer aan hy het met voorbedagte rade opgetree en mense na bewering besteel, beroof, gedood, gedreig en ontvoer. Die staat voer ook aan Alberts het op 10 Augustus 2023 in Sandton, Gauteng, ’n wit Hyundai i10-voertuig van R200 000 van Stuart van der Volk se Stuart’s Car Hire gehuur, maar nie daarvoor betaal nie. Alberts het in besit daarvan gebly totdat hy aangekeer is.
Op 21 Augustus het Alberts na Dewetsdorp in die Vrystaat gery waar hy ’n skootrekenaar en ’n laaier van ’n vrou wou koop, maar dit glo gesteel het.
Van der Volk kon intussen vasstel dat die motor naby Bloemfontein beweeg en het die polisie in kennis gestel. Intussen het Dodds Pringle, wat ’n sekuriteitsmaatskappy in Kimberley besit, die blitspatrollie op die hoogte gehou.
Op die betrokke dag, 22 Augustus, is sers. Kedimetse Masilo en konst. Okaetse Mandindi, die twee polisielede wat doodgeskiet is, en ander by die Puma-vulstasie op die N8-roete vanaf Bloemfontein geplaas. Die polisie het die gesteelde motor gewaar, maar Alberts het weggejaag toe hulle hom wou voorkeer.
Hy het naby die Diamond Pavilion-inkopiesentrum reg voor aankomende verkeer ingery, en skerp regs by die spoorwegwerf ingery, waar hy in ’n sloot ingejaag het en die motor “afgeskryf” het.
Hy het te voet gevlug.
Mandindi het hom te voet ingehaal, en sy vroulike kollega aangesê om te help om Alberts te boei. In die struweling het Alberts een van hulle se R5-outomatiese wapen afgeneem en glo verskeie noodlottige skote op hulle geskiet.
Twee voertuie gekaap in vlugtog
Alberts het verder gevlug en Francois Bronkhorst in sy Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie op die spoorwegwerf teëgekom waar hy tydens teetyd gesit het. Hy het Bronkhorst glo met die vuurwapen gedwing om tot by die sekuriteitshek te ry, waar albei uit die voertuig geklim het. Bronkhorst het egter vinnig in sy bakkie teruggeklim, die deure gesluit en weggery.
Omstreeks 10:00 het Alberts vir Conrad Buitendach jnr. en Conrad Buitendach snr. in hul Toyota-dubbelkajuitbakkie in die werf teëgekom en hulle glo met die vuurwapen gedreig om die bakkie oop te sluit. Alberts het agterin geklim en hulle gedwing om in die rigting van Johannesburg te ry. Hy het toe glo onbekende middels ingeneem.
Op pad het ’n aankomende voertuig ligte geflits, waarna Alberts hulle beveel het om af te draai na die Riverton-plesieroord.
By die oord het hy die twee gedwing om uit te vind of daar verblyf beskikbaar is, maar daar was nie. Toe hulle by private wonings uitklim, kon Buitendach sr. vir Alberts oorrompel en die vuurwapen afgevat.
Hy het die vuurwapen beveilig, in die bakkie geplaas en teen hoë spoed na Kimberley teruggejaag. Die polisie het Alberts by Riverton in hegtenis geneem.
Adv. Catherine Jansen kla aan. Heinrich Steynberg van Regshulp Suid-Afrika verteenwoordig Alberts. Regterpresident Pule Tlaletsi lei die verhoor.


