ltumeleng Machabe Bendow (27) het ure lank baie stadig drie kinders met die belofte van geld agter hom in Galeshewe, Kimberley, laat aanstreep, totdat net ’n meisie van 11 jaar oud oorgebly het. Dit is dié meisie wat hy na bewering na ’n stil plek in die veld weg van die voetpaadjies gelok het, wreed verkrag en vermoor het.
Vrae oor wat in die verlore twee tot drie ure gebeur het waaroor hy nie rekenskap kan gee nie, het Machabe vandeesweek in die hooggeregshof in Kimberley laat bontstaan oor wat met Relebohile Segami (11) aan die einde van Maart 2022 gebeur het.
Haar lyk, met ’n lap oor haar nek, is dae ná haar verdwyning in die veld gevind. Die geskokte gemeenskap het protesoptogte by die hof gehou waar hy ná sy inhegtenisneming verskyn het.
Teen die einde van sy kruisondervraging het hy al meer begin beduie en met sy hande op die getuiebank gekap terwyl hy al 19 aanklagte teen hom, wat verkragtings van ander jong meisies asook bedrog insluit, ontken het.
Machabe kon nie tot die aanklaer se bevrediging verduidelik waar hy was in die ure wat Segami verkrag en vermoor is nie. Die staat verwys na die beskuldigde as Machabe, al het hy sy van intussen na Bendow verander.
In sy getuienis het hy die staatsgetuies van leuens en ’n komplot teen hom beskuldig.
Die afdreiger wat voorgegee het hy is ’n gay skoolmeisie, was destyds inderdaad ‘n man van 22 jaar, voer die staat aan. Hy het die skuilname van Prudence Femme Ivy en Mona Femme Lisa gebruik.
Nadat die staat sy saak gesluit het, het Machabe, in swart geklee, die getuiebank in sy eie verdediging bestyg. Volgens hom weet hy niks van die vals profiele en afdreiging nie. Sy selfoon waarmee hy by Facebook sou inteken, was in besit van ’n vriendin wat sy foon weens jaloesie by hom afgevat het. Hy het nie geweet waar sy bly nie, want hulle het nooit by mekaar se ouerhuise gekuier het.
Hy kon egter nie ontken sy WhatsApp-nommer is gebruik en dat foto’s van sy ma en ouma op die WhatsApp-profielfoto was nie. Dit en ander foto’s van hom by luukse motors is in die afdreiging gebruik as die sogenaamde “neef” van die een vals profiel. Identiese foto’s is op sy ma se selfoon ontdek.
Adv. Elmari Krüger, aanklaer, het vir hom gesê die sogenaamde vriendin wat sy foon afgevat het, bestaan net in sy verbeelding.
Die meisies wat hy na bewering verkrag het, het tot seks met hom ingestem, het hy aangevoer. Hy het gedink die 13-jarige is 15 jaar oud, en dat die 15-jarige slagoffer wat hy verskeie kere in die veld verkrag en aangerand het, 17 jaar oud was. Hy het laasgenoemde meisie glo met die dood gedreig as sy nie sy urine insluk en sy anus lek nie.
Buiten dat hy nie vir Segami verkrag en vermoor het nie, het hy getuig dat hy nie geweet het sy is 11 jaar oud nie. Hy was egter jarelange vriende met haar halfbroer en familie en het as vertroueling gereeld aan huis gekom.
Krüger het dit aan hom gestel dat hy van jong maagdelike meisies hou, soos Segami, wie se noemnaam Lebo was. Op die dag van die voorval het Segami en ’n ander meisie en seun agter hom aangeloop terwyl hy oral by vriende se huise aangedoen het. Die een meisie het nadat hy haar gevra het of sy ‘n maagd is, omgedraai en huis toe geloop. Intussen het Segami vir Machabe bly geld vra. Volgens die seun wat saam geloop het, het Machabe vir Segami gevra het of sy in ’n liefdesverhouding met hom wil wees.
Machabe ontken dit. Die seun het honger geword en huis toe gegaan.
By een van die huise waar hy en Segami aangedoen het, het een meisie vir Segami teen hom gewaarsku en gesê hy is gevaarlik. Machabe het die betrokke meisie glo die vorige dag R100 vir seks aangebied.
Die aanklaer het hom beskuldig dat hy vir Segami met die R20 wat kastig in sy sak was, gelok het.
“Jy het haar na dieselfde veld gevat waar jy die ander meisies aangerand het. Jy het vir Lebo op ’n stil plek waar daar geen voetpaadjies is nie, wreed verkrag,” het die aanklaer dit aan hom gestel. “Een van jou ander slagoffers was ’n maagd, soos jy van hulle hou.”
Machabe het op die getuiebank begin kap en beduie dat hy vir Segami tussen 12:00 of 13:00 geld gegee waarna sy huis toe geloop het.
Maar die twee vriendinne het in hul getuienis volgehou hulle het eers ná 17:00 daar opgedaag, en hy kort tevore. Daardie dag was hy glo nie homself nie, hy was senuweeagtig en het heeltyd op en af in die straat geloer. Hy het glo gesê hy was vroeër saam met “vriende en meisies”, maar hy het aan hulle gevra of sy T-hemp vuil was. Volgens een meisie was daar merke aan sy T-hemp.
Volgens die staat sou Machabe een nag, pas ná die gebeure, een van die meisies probeer oortuig om hom ’n alibi te gee deur te sê dat hy die hele agtermiddag saam met hulle was. Sy het geweier.
“Jy het twee tot drie verlore ure wat jy nie kan verklaar wat met Lebo gebeur het nie,” het die aanklaer gesê.
Hy het teruggekap. “Onwaar, geen van my DNS is op die meisie of die lap waarmee sy verwurg is, gevind nie. Die polisie kon nie eens krapmerke op my lyf vind nie.”
Volgens die aanklaer kan die gebrek aan manlike DNS in die semen in die slagoffer aan verskeie faktore soos ’n gebrek aan spermselle toegeskryf word. Dit beteken dat Machabe nie as die verkragter en moordenaar uitgesluit is nie.
Adv. Sakkie Nel tree vir Machabe op.
Regter Cecile Williams het die verhoor vir betoë tot 3 en 4 Oktober uitgestel.


