Die vier moordenaars van ’n egpaar van die Boshof-distrik is twee keer lewenslange tronkstraf in die hooggeregshof in Bloemfontein opgelê.
Die een, Thami Terence Kat (36), het Vrydag (28/01) sy middelvinger vir AO Dirk van Rijn, ondersoekbeampte, gewys toe Van Rijn die hofsaal saam met familielede van die vermoorde Sakkie (67) en Ina van der Berg (62) van die plaas Blouboswes verlaat.
Regter Celesté Reinders het Kat en sy medebeskuldigdes, Johannes Sekgoro (43), Leepile Daniel Sidasi (47) en Daniel Tsekiso Seloane (31), elk tot twee keer lewenslange tronkstraf gevonnis.
Sekgoro, Sidasi en Seloane is elk ’n verdere 15 jaar tronkstraf opgelê op ’n aanklag van roof met verswarende omstandighede. Kat is ook nog 20 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede opgelê, asook nog 15 en 13 jaar tronkstraf vir onderskeidelik die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en die onwettige besit van ammunisie. Seloane is ook nog 15 jaar tronkstraf vir die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen opgelê, asook ’n verdere 15 jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien.
Die Van der Berg-egpaar is op 12 Julie 2019 met ’n gesteelde vuurwapen geskiet en van onder meer selfone en ’n wit Ford Ranger-bakkie beroof.
Reinders het gesê die egpaar het hul vryheid en die natuur op die plaas geniet, en die moordenaars het hul ouderdom, weerloosheid en die plaas se ligging misbruik.
Adv. Allen Simpson het aangekla, en adv. Mohau Motake het vir Sekgoro, Sidasi en Seloane opgetree. Venecia Abrahams het Kat se verdediging behartig.