Daniel Wilfred Alberts tydens ’n hofverskyning in April.

Foto: Helena Barnard

Die man wat ’n jaar gelede na bewering twee polisielede van die blitspatrollie in Kimberley doodgeskiet het tydens sy wilde vlugtog nadat hy glo ’n voertuig in Bloemfontein gesteel het, sê hy het genoeg geld vir ’n privaat regsverteenwoordiger.

Sy probleem is egter dat hy nie vanuit aanhouding sy hande op die geld in sy bankrekening kan lê om ’n privaat prokureur te kan betaal nie.

Só het Daniel Wilfred Alberts (39) Maandag 12 Augustus aan die landdros in die landdroshof in Kimberley gesê waar hy weer verskyn het. Die saak sou na verwagting na die hooggeregshof oorgeplaas word, maar die staatsaanklaer het aangedui dat hulle steeds besig is om verskillende strafsake teen Alberts saam te voeg.

Alberts het Maandag in die Kimberley-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord, drie van roof met verswarende omstandighede, een van motordiefstal en een van diefstal. Sy huisadres is voorheen as in Pretoria aangegee.

Die verdagte is glo al voorheen vir ander misdade in hegtenis geneem. In die jongste saak het hy nie aansoek om borgtog gedoen nie.

Alberts sou in die afgelope jaar vir psigiatriese waarneming opgeneem word ná die voorval op 22 Augustus 2023 waarin hy glo vir konst. Okaetse Mandindi en sers. Kedimetse Masilo na bewering doodgeskiet het. Masilo en Mandindi het onderskeidelik vir 16 en 11 jaar in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedien.

Daniel Wilfred Alberts tydens sy eerste hofverskyning ná sy inhegtenisneming in Augustus verlede jaar.

Die lede was na bewering besig om die bewegings van ’n gesteelde gehuurde voertuig na te gaan wat op pad was na Kimberley. Nadat hulle die voertuig in die stad gesien het, het hulle dit gevolg. Die voertuig het na Transnet se spoorwegwerf weggejaag waar die verdagte in ’n botsing betrokke was en te voet gevlug het. Die lede het hom agterna gesit, waarna hulle doodgeskiet is. Alberts is later die dag in Riverton aangekeer.

Die breedgeskouerde Alberts was Maandag in ’n kakiekleurige langbroek, met ’n swart baadjie bo-oor ’n rooi-en-swart-blokkieshemp geklee. Hy het twee notaboeke onder sy arm vasgeknyp en het ’n reistas by hom gehad.

Hy het deur ’n regshulpprokureur aan landdros Jumari du Toit gevra dat sy ’n bevel uitreik dat hy, selfs geboei, na die bank geneem kan word. Du Toit het geweier en gesê dit is ongehoord en dat dit buite haar magte val. Hy moet met die ondersoekbeampte en die aanklaer daaroor praat en weer verskyn om verslag te doen.

Volgens Alberts steur die departement van korrektiewe dienste hom nie aan sy skriftelike versoeke nie. Hy moet die bank glo in persoon besoek omdat sy biometriese besonderhede eers bevestig kan word voordat hy geld kan trek of volmag aan iemand anders gee.

Die saak is tot Vrydag 16 Augustus uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.