Die nuutste kwartaallikse misdaadstatistiek toon ’n afname in verskeie misdade, maar daar is steeds 6 945 moorde in Suid-Afrika vanaf 1 Julie tot 30 September gepleeg.

Van dié moorde wat in die tydperk gepleeg is, was 881 vroue en 293 kinders. Bheki Cele, die minister van polisie, het Vrydag 17 November die statistiek bekend gemaak.

In die Noord-Kaap is argumente, misverstande, padwoede en uitlokking die hoofoorsaak vir moorde in dié tydperk gepleeg. Die tweede grootste oorsaak is vigilantisme en opswepery. Die meeste moorde het in openbare plekke plaasgevind, gevolg deur die blyplek van hetsy die slagoffer of die verdagte. Soos verlede kwartaal, is messe by verre die wapen wat die meeste by die moorde gebruik is, gevolg deur direkte aanranding met arms of bene, en derdens vuurwapens. In die Noord-Kaap is twee polisie-offisiere in die tydperk vermoor.

Geen plaasmoorde is in die tydperk in die provinsie aangemeld nie, geen verkragtings by onderwysinstellings nie, en geen transitorooftogte nie.

Motorkapings in die Noord-Kaap het met vier gevalle (van sewe na 11) toegeneem. Sedan-, luikrug en tweedeurvoertuie word die meeste gekaap, gevolg deur bakkies of paneelwaens.

Drie vragmotors is gekaap (’n styging van een na drie gevalle), en 44 ontvoerings is aangemeld (’n styging van 26 na 44 gevalle).

You need to be Logged In to leave a comment.