‘Moenie goeie krisis mors’

In die Kalahari het die impak van die inperking ondernemings, wat reeds die afgelope paar jaar onder die verlammende droogtetoestande gebuk gaan, hard getref.


In die Kalahari het die impak van die inperking ondernemings, wat reeds die afgelope paar jaar onder die verlammende droogtetoestande gebuk gaan, hard getref.

Besighede se deure is weens die koronavirus-pandemie tydelik gesluit. Sommige noodsaaklike dienste kan skaars die ligte aan hou en individue weet nie hoe om die onbekende toekoms binne te gaan nie.

Michael Jordaan

Michael Jordaan, voormalige uitvoerende hoof van FNB. Foto: Argief

Michael Jordaan, die voormalige uitvoerende hoof van FNB en nou medestigter van Bank Zero, het raad vir broodwinners wat die toekoms vrees.

Suid-Afrikaners moenie ’n goeie krisis mors nie, het hy verlede Woensdag (20/05) tydens ’n aanlyn paneelbespreking gesê.

Jordaan sê ons moet nie die omvang van die krisis ontken nie. “Aanvaar die feite en neem besluite, ook dié wat moeilik is.”

Sy raad is dat niemand nou ander werk moet soek nie. Hou wat jy het en lewer die beste werk wat jy kan.

“As jy ’n geleentheid sien waar jy ’n probleem kan oplos en só ’n nuwe onderneming kan begin, moenie wag nie.”

Hy meen iemand wat gedurende ’n krisis ’n maatskappy kan begin, kan ander uitdagings ook oorkom.

Sy wenk vir jong mense wat nie nou werk kan kry nie, is om verder te studeer sodat hulle so goed as moontlik voorbereid is om vir werk aansoek te doen wanneer die ekonomie weer begin groei.

Hy het almal ook gewaarsku om vals nuus te vermy, veral daardie WhatsApp-boodskappe wat deur “nuusdienste” waarvan jy nog nooit gehoor het nie, gestuur word.

Hy sê ’n mens moet by bekende name hou wanneer jy nuus lees.

Jordaan sê jy moet na jouself kyk en seker maak dat jy gesond bly.

“Jy kan nie na ander mense omsien as jy self siek word nie.”

Die volgende 12 tot 18 maande gaan net oor oorlewing, het Jordaan gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.