Twee minderjarige seuns is weens die moord op ’n gastehuiseienaar van Ritchie in hegtenis geneem en sou na verwagting Dinsdag (03/05) in die hof in die nedersetting verskyn het.
Gunther Shwalb (66) is Donderdag (28/04) omstreeks 04:00 dood toe hy gaan ondersoek instel het nadat hy ’n geraas buite sy huis gehoor het.
Hy het op die twee verdagtes afgekom wat na bewering sy motor probeer steel het.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die twee minderjarige seuns, 14 en 17 jaar oud, is later dieselfde dag in die Motswedimosa-woonbuurt in Ritchie in hegtenis geneem.
Hoewel die seuns in hul ouers se sorg vrygelaat is, moet hulle deur ’n proefbeampte waargeneem en voorlopig geassesseer word voordat hulle in die hof verskyn.
Tydens die voorval het die verdagtes Shwalb met klippe bestook en hy is teen die kop getref.
Shwalb het na sy huis teruggestrompel en in die sitkamer ineengestort.
Hy is op die toneel dood verklaar.
Intussen het die verdagtes ook die huis met klippe bestook en talle vensters is gebreek.
Shwalb se geskokte vrou, Felicity, het die polisie en buurtwag ontbied, maar die verdagtes het toe reeds gevlug.
Die Shwalb-egpaar was 14 jaar getroud en het die Shwalb’s Rest-gastehuis in die dorp bedryf.
Shwalb was ’n Duitse burger wat jare gelede na Suid-Afrika verhuis het en is as “energiek en deeglik” beskryf. Hy was vaardig met sy hande en het die meeste van die bouwerk by die gastehuis gedoen.
Volgens ’n familielid moes die egpaar gereeld inbrake verduur.
’n Jarelange inwoner van Ritchie vertel dat misdaad in dié nedersetting toeneem.
Hoewel daar ’n buurtwag is, asook polisiesigbaarheid in die vorm van ’n polisiekantoor in die woonbuurt Rietvale, is dit nie voldoende nie.
“ ’n Buurtwag kan ook net soveel doen,” sê hy, en vertel van diefstalsake in Ritchie wat weens swak polisie-ondersoeke uit die hof gegooi is.
Verlede week is eiendom glo van ’n perseel, met elektriese omheining, gesteel.
“Hulle het byna alles weggedra,” vertel ’n inwoner.
Nog ’n inwoner sê dat ’n mens nie “jou agterent in Ritchie kan draai nie, want dan steel iemand iets agter jou.”


