’n Styging in die moordsyfer in die eerste kwartaal van die 2022-’23-boekjaar is in heelwat polisiegebiede in die Noord-Kaap aangeteken.
Die statistieke vir die kwartaal van April, Mei en Junie is Vrydag (19/08) bekend gemaak.
Alet van der Walt berig die tien polisiekantore waar die meeste moorde aangemeld is, het stygings van 20% tot 200% aangemeld.
Upington is al uitsondering; in dié dorp het die syfer van drie moorde onveranderd gebly.
Wat moord betref, is Galeshewe in Kimberley die gevaarlikste gebied waar sewe mense in die kwartaal vermoor is, twee meer as in dieselfde tydperk in 2021.
By Mothibistad is ses moorde aangemeld, een meer as verlede jaar. By Postmasburg is ses mense vermoor teenoor drie in die ooreenstemmende tydperk in 2021.
By Kenhardt is twee mense vermoor, terwyl daar in die vorige vier jaar geen moord in die eerste kwartaal van die boekjaar was nie.
Trio-misdade – kaping en huis- en sakeroof – het in Kimberley van nege tot 19 voorvalle toegeneem.
Galeshewe is wat seksuele misdade betref een van die gevaarlikste plekke in die Noord-Kaap. Altesaam 22 verkragtings het in dié tydperk hier voorgekom, vier meer as in April tot Junie verlede jaar.
In Mothibistad het verkragtings van 11 tot 17 toegeneem en in Postmasburg van 7 tot 12.
Geen transitorooftog of bankroof is in die tydperk aangemeld nie, terwyl een vragmotor by Daniëlskuil gekaap is. Altesaam 14 motors is in die provinsie gekaap, waarvan vyf by Mothibistad en twee by Kuruman.
Intussen het twee polisielede in Kimberley Dinsdagoggend (23/08) omstreeks 03:20 moontlike misdaad gefnuik deur drie mans vir die besit van ’n tuisgemaakte ploftoestel in hegtenis te neem.
Die polisielede was besig met patrollie toe hulle ’n wit VW Polo in Greenstraat in Wes-Einde opgemerk het. Met deursoeking van die voertuig het hulle die ploftoestel, en ook voorwerpe soos ’n mes, handskoene, balaklavas, twee selfone en isolasieband gevind.
Die mans, twee 22-jariges en ’n 33-jarige, sal binnekort in die hof verskyn.
Die afgelope maand het veral die volgende misdade in die provinsie die nuus gehaal:
- Die 65-jarige Bets Olivier (65) is tydens ’n plaasaanval op 15 Augustus dood. Anena Burger berig daar word steeds na die vermeende aanvallers gesoek wat Andrew Olivier (67), ’n boer van Olifantshoek, en sy vrou, Bets, aangeval en vasgebind het.
Die aanvallers het glo vir die Olivier-egpaar gewerk. Die polisie het nog niemand weens die voorval aangekeer nie en die ondersoek duur voort, sê lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder. Daar word ook gewag op die uitslae van die nadoodse ondersoek wat sal aandui wat tot Bets se dood gelei het.
Die verdagtes is Rodrick Qoto, Sala Mazolo en ’n vrou wat slegs as Celia bekend is. Die vrou het glo by die Oliviers in die huis gewerk.
Enigeen met inligting oor waar die verdagtes hulle bevind, kan lt. kol. Doggie Magugu, ondersoekbeampte van die provinsiale georganiseerde-misdaadeenheid, by 082-469-0578 bel.
- ’n Mediese dokter van Kimberley, dr. Ilunga Kalasa (37), het op 17 Augustus in die Kimberley-distrikshof verskyn op ’n aanklag van die verkragting van ’n 17-jarige pasiënt in sy spreekkamer. Met sy hofverskyning Maandag (22/08) is ’n klag van seksuele aanranding deur ’n ander pasiënt hierby gevoeg.
- ’n Man is Vrydag (19/08) omstreeks 11:30 op die hoek van Livingstone- en Stewardstraat in Kuruman met ’n mes aangeval en beroof. Die polisie ondersoek ’n saak van ernstige aanranding. Die man is in sy rug gesteek en artikels is uit sy motor gesteel.
- ’n Week voor dit is die bejaarde Gawie Verreyne (93) deur gewapende rowers in die parkeerterrein van ’n-winkelsentrum in Kuruman aangeval. Van sy gesigbene is tydens die aanval gebreek toe hy teen sy bakkie se trapstaaf val. Hy moes ’n operasie aan sy gesig ondergaan. ’n Verdagte (29) is kort ná die voorval aangekeer.


