Die
Noord-Kaapse polisie sê hulle ondersoek klagtes oor die misbruik van
polisievoertuie in Kimberley.
Dit volg nadat ’n
foto wat skynbaar wys hoe ’n polisievoertuig gebruik word om koelerbokse en ander piekniektoerusting aan te
ry die afgelope week soos ’n veldbrand op sosiale media versprei is.
Op die foto kan
mens sien hoe ‘n vrou, vermoedelik ’n polisiebeampte sonder ’n uniform, ’n koelerboks
en sakke uit ’n polisievoertuig uit haal.
Die gemerkte
voertuig lyk of dit aan die polisie se menslike hulpbronbenuttingseenheid in
Kimberley se vloot behoort.
Klagtes oor die
misbruik van polisievoertuie kom nadat daar vroeër vanjaar onthul is dat ‘n ernstige gebrek aan polisievoertuie die polisie glo verhoed
om by noodoproepe uit te kom.
Brig. Mohale
Ramatseba, die polisie se hoof van korporatiewe kommunikasie in die Noord-Kaap,
het by navraag gesê: “Ons dra kennis van die voorval en is besig met ’n interne
ondersoek na die aangeleentheid.”