’n Inwoner van Kimberley wat van ’n rolstoel gebruik maak om oor die weg te kom, moes op Dinsdag 19 Maart omstreeks 11:00 sukkel om ander geskikte parkeerplek te kry. ’n Polisiebakkie was een van die voertuie wat op die gereserveerde plekke parkeer was. ‘n Polisiewoordvoerder het teen Woensdagoggend bevestig dat ‘n polisielid met ‘n fisiese gestremdheid ‘n passasier in die voertuig was.

Foto: Verskaf

OPVOLG: Die polisie het Woensdagoggend 20 Maart bevestig dat ‘n polisielid met ‘n fisiese gestremdheid ‘n passasier in die polisiebakkie was wat Dinsdag by ‘n winkelsentrum in Kimberley op ‘n parkeerplek vir persone met gestremdhede parkeer was. 

Dié polisielid met die rang van adjudant-offisier tree glo binnekort uit diens, en het die Polmed-kantoor wat in die North Cape Mall geleë is, besoek, sê kol. Cherelle Ehlers, polisiewoordvoerder. Polmed is die Suid-Afrikaanse Polisiediens se mediese skema. 

‘n Foto van die polisiebakkie op die gereserveerde parkeerplek is wyd op sosialemediaplatforms gedeel, en ná ‘n medianavraag het Ehlers bevestig dat die voorval ondersoek sal word.

Lees die oorspronklike berig hier:

’n inwoner van Kimberley, wat van ’n rolstoel gebruik moet maak om oor die weg te kom, moes op Dinsdag 19 Maart omstreeks 11:00 sukkel om geskikte parkering by die North Cape Mall te kry nadat sy ’n polisiebakkie op ’n gereserveerde parkeerplek vir persone met mobiele gestremdhede gevind het.

Dié gereserveerde parkeerplek vir persone met gestremdhede is breër as ’n gewone parkeerplek om genoeg ruimte te laat vir so ’n persoon om vanuit die voertuig in ’n rolstoel te verplaas. Dit is ook breër sodat die voertuig se deur so wyd moontlik oopgemaak word juis om die verplasing na die rolstoel te vergemaklik.

In November het die bestuurder van die burgemeestervoertuig van die Sol Plaatje-munisipaliteit hom ook hieraan skuldig gemaak toe hy op so ’n parkeerplek by dieselfde winkelsentrum parkeer het.

Soos met die voorval van Dinsdag het die persoon wat die foto geneem het, bevestig dat dit vroegdag was met meer as genoeg parkeerplek elders.

‘n Mensereg om toegang te verkry

Belanghebbendes van die Vereniging van en vir Persone met Gestremdhede (APD) Frances Baard-distrik, het hulle voorheen reeds sterk oor hierdie neiging uitgespreek.

“Dit is nie ’n kwessie van gerief vir persone met gestremdhede nie, maar ’n mensereg om toegang te verkry tot dieselfde geriewe of gelyke basis met ander.

’n Parkeerplek vir ’n persoon wat van ’n rolstoel gebruik moet maak, is breër as ’n gewone parkeerplek om verplasing vanuit die voertuig tot in die rolstoel te vergemaklik. Hoewel baie van hierdie parkeerplekke nie afgeskort word nie, beteken dit nie dat enige lid van die publiek dit mag gebruik nie.

“Wanneer iemand wat nie daarop geregtig is om so ’n parkeerplek te gebruik nie, dit wel gebruik – al is dit “net vir ’n paar minute” – strem hulle diegene wat daarop geregtig is en weerhou hulle die individu om toegang tot die gebou te kry.

“Dieselfde persoon sal waarskynlik hoogs ontsteld wees as hul kar se deur gekrap of gestamp is deur iemand wat in ’n gewone parkeerplek in ’n rolstoel probeer verplaas omdat daar nie ’n toeganklike parkeerplek beskikbaar is nie,” sê Dorothy-Anne Howitson, sekretaris van die APD Frances Baard-distrik.

Interne stappe gedoen

Na aanleiding van ’n medianavraag aan die polisie, sê kol. Cherelle Ehlers van die polisie in die Noord-Kaap se media-afdeling, dat die misbruik van die parkeerplek deur ’n lid van die polisie met erns bejeën word.

Die stasiebevelvoerder in wie se verantwoordelikheidsgebied die betrokke polisiebakkie gebruik word, is reeds oor die voorval ingelig. Ehlers sê interne dissiplinêre stappe sal teen die persoon wat daarvoor verantwoordelik is, gedoen word.

Ehlers sê ook die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) veroordeel die wangebruik van staatshulpmiddels.

Die North Cape Mall kon nie vir kommentaar bereik word nie.

’n Persoon wat vanuit ’n voertuig na ’n rolstoel moet verplaas, het ekstra ruimte op ’n parkeerplek nodig.

You need to be Logged In to leave a comment.