Min verligting vir sportlui

Bêre die gholfstokke, tennisrakette en branderplanke. As jy nie ’n beroepsatleet is nie, is sport op vlak 3 van die land se inperkingsmaat­reëls jou steeds nie beskore nie.


Bêre die gholfstokke, tennisrakette en branderplanke. As jy nie ’n beroepsatleet is nie, is sport op vlak 3 van die land se inperkingsmaat­reëls jou steeds nie beskore nie.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur. Foto: GCSI

Dit is nou amptelik, nadat die minister van sport, Nathi Mthethwa, Saterdag (30/05) in ’n nuuskonferensie net vlak 3 se maatreëls vir professionele sport aangekondig het.

Diegene wat sport vir ontspanning beoefen – daardie mense wat basies die sportbedryf met ledegeld en deelnemersgeld befonds – mag steeds nie hul stokperdjies hervat nie.

Mthethwa het bloot herhaal wat reeds Donderdag (28/05) deur die nasionale Covid-19-bevelsraad (NCCC) gepubliseer is: dat beroepsatlete in sowel nie-kontak- as kontaksporte kan terugkeer na die oefenveld en wedstryde in nie-kontaksportsoorte mag hervat, sonder toeskouers.

Vir wedstryde moet daar egter by Mthethwa toestemming gekry word.

Ná nege weke van inperking sal hulle verheug wees om weer hul fiksheid op te skerp.

Die verbod op wedstryde in hul sportkodes is nie in hierdie stadium ’n groot nekslag nie, aangesien spelers nie gereed is vir kompetisie nie.

Dieselfde geld egter ook nie-kontaksporte.

Richard Glover, die uitvoerende hoof van Tennis Suid-Afrika, het Vrydag gesê al mag daar nou tenniswedstryde plaasvind, sal spelers waarskynlik tot ses weke nodig hê om voor te berei.

Vir federasies soos Tennis Suid-Afrika – wat Vrydag saam met onder meer Golf RSA, Swem Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Gimnastiek­federasies ’n pleidooi gelewer het dat alle sport weer oopgestel word – is die enigste goeie nuus dus dat hul beroepspelers weer mag oefen.

Maar die afrigters en beamptes wat hul geld op grondvlak verdien, is steeds magteloos.

Die nege federasies se verklaring het gemeld dat sowat 3 500 mense werksaam is in gimnastiek, 40 000 in die gholfbedryf, 22 000 in swem en 6 500 in tennis.

Dit is ’n blote breukdeel van alle persone wat hul daaglikse brood in die sportbedryf verdien, en steeds nie weet wanneer hulle weer mag begin werk nie. – Marizanne Kok

You need to be Logged In to leave a comment.