Die sagtewareprogram het probleme gegee. Die probleem kon nie intern of plaaslik opgelos word nie. Die bestuur het die ontwikkelaars uit Gauteng laat kom om dit uit te sorteer.
Omdat ek met ’n deel van die sagtewareprogram gewerk het, moes ek die vergadering bywoon.
Die hoofontwikkelaar was ’n Brit. Nie net was dit moeilik om sy swaar aksent te verstaan nie, hy kon nie ’n woord Afrikaans praat nie en het net ’n paar Afrikaanse woorde verstaan.
My kollega het die eerste spreekbeurt gekry.
“Let me put it this way,” het hy stadig begin.
“If I click on the daily . . .”
Hy het stilgebly. Ek het in spanning gewag.
Hy het ’n oomblik na sy voete gekyk. Toe na die deur. ’n Swaar sug het oor sy lippe ontsnap.
Hy het in die Noord-Kaap grootgeword en nie gereeld Engels gepraat nie.
“Ek gaan vir jou in Afrikaans verduidelik,” het hy gesê.
Hy het sy skootrekenaar oopgevou en stadig verduidelik terwyl hy hier en daar na spesifieke dele op die skerm verwys. Waar dit gelyk het of die vreemdeling glad nie verstaan het nie, het ’n kollega ’n Engelse woord bygedra.
Die twee mans het in twee verskillende tale gekommunikeer. Verskillende agtergronde. Verskillende kulture. Verskillende verwysingsraamwerke.
Die deurslaggewende faktor was respek. Daardie dag is die probleem opgelos. Slegs met die belangrikste bestanddeel in enige verhouding – wedersydse respek.

