Hulle vertel van die ou wie se ma aan Alzheimer se siekte gely het. Hy gaan kuier vir haar. Op daardie stadium erken sy min van haar geliefdes.
Hy vra haar: “Weet ma wie ek is?” Geen reaksie. Weer vra hy: “Weet ma wie ek is?” Niks. Ná ’n derde keer en geen reaksie draai hy om en loop weg. Skielik reageer sy: “As jý nie weet wie jy is nie, kan ék jou nie help nie!”
Weet jý wie jý is? Die vraag na wie en wat die mens is, hou elkeen besig. Volgens die filosoof Immanuel Kant is dit een van die basiese vrae van die mens in sy soeke na die sin van bestaan.
Daar word baie oor die identiteit van die mens gepraat; die menswaardigheid. Ons wil by ons kinders ’n gesonde selfbeeld kweek. Dan tog snaaks hoe ons die identiteit van mense, hul waarde, in direkte verband bring met wat hulle vermag en doen.
Die groot vraag is: Watter invloed het jy gehad? Wat het jy vermag?
As Dawid in Psalm 8 vra: “Wat is die mens?” dink hy anders. Hy laat nie die klem val op dit wat ons doen en vermag nie. Wie ons is, lê opgesluit in ons verhouding met God. Hy weet van geen selfgenoegsame, onafhanklike, en geïsoleerde mens wat sonder God kan bestaan nie. Vir Dawid bestaan die mens alleen deur die goedheid en genade van God.
Met verwondering vra hy: “Wat is die mens dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” Dawid leer ons dat ons nie die “self-made” mense is wat ons dink nie. Voor God is ons nietige skepsels wat in wese van hom afhanklik is.

