Dié insek word verpes, en hoewel kleiner as ’n pinkienael, kan so ’n lastige wesentjie die dood veroorsaak.

Wêreldmalariadag het verlede week op 25 April plaasgevind, en volgens die Wêreldgesondheids­organisasie (WGO) het die vordering om malaria uit te wis in die afgelope jare bykans tot stilstand geknars.

Statistieke dui aan dat 94% van alle malariagevalle in Afrika aangemeld is, en dat ongeveer 608 000 mense in 2022 weens malaria dood is. Boonop is in dieselfde jaar 249 miljoen nuwe gevalle van malaria aangemeld.

In ’n verslag waarsku die Wêreld- Ekonomiese Forum dat klimaatverwante faktore, onder meer hoër temperature, in die volgende jare sal veroorsaak dat muskiete se geografiese verspreiding sal uitbrei en hul broeiseisoen verleng. Dit sal teweegbring dat malaria na Europa en dele van Amerika sal versprei waar dit nie voorheen aangemeld is nie.

Die verandering in die klimaat, asook die uitwissingsprogramme van malaria wat getaan het, word deur die mens veroorsaak.

Nog ’n wese met ’n negatiewe reputasie in Afrika was ook verlede week op 27 April in die kollig, tydens Wêreldhiënadag.

Dié dier met sy hekselag en aasgewoonte laat die meeste mense se hare rys.

Onlangs is nog ’n geval aangemeld van iemand in die Krugerwildtuin wat in haar slaap deur ’n hiëna gebyt is. Hoe die hiëna in die kamp, en in dié slaapruimte gekom het, is onseker.

Dr. Dave Pepler, ekoloog, sê hiënas is opportunistiese vreters. Mense wat hiënas met kos nader lok, en ook diegene wat ander gevaarlike diere soos bobbejane voer, skep die probleem. Hy sê ’n besoek aan onder meer die wildtuin gaan gepaard met bepaalde gevare, en mense moet nie verbaas wees om die gevare juis daar aan te tref nie.

Met dié laaste datum in gedagte, ook Vryheidsdag in Suid-Afrika, kan ’n mens jou hande saamslaan oor hoe die mens die vermoë het om ook dié begrip die nek om te draai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article