Vrouedag-vieringe is bykans in elke blokkie van Augustus op die kalender gemerk. Met geleenthede soos dié word prestasies van vroue vereer, en kwessies van geslagsongelykheid en -onderdrukking bespreek.
Dat dié dag gevier word, simboliseer die rol wat vroue in die vorming van die Suid-Afrikaanse samelewing gespeel het – met sy oorsprong die optog van 9 Augustus 1956 toe nagenoeg 20 000 vroue van alle rasgroeperinge teen die paswette betoog het.
In 2025, volgens die wêreldwye web, is daar geen beroep waarin vroue nie meer toegelaat word nie. Maar, moet bygevoeg word, in sekere lande en kulture word vroue wel verhoed om ‘n spesifieke beroep te volg.
Volgens bronne, ook investing.com, word vroue in Suid-Afrika oor die algemeen minder as hul manlike gelyke betaal. Dié gaping word deur die Stellenbosch-besigheidskool op tussen 23% en 35% geraam. Vroue in Suid-Afrika betree glo merendeels laer betalende sektore soos onderwys en die kleinhandel, terwyl meer mans hoër betalende beroepe kies.
Tog betree vroue al hoe meer beroepe wat tradisioneel ‘n manswêreld was.
Hieroor sê dr. Erica Millier, kliniese sielkundige: “Vroue kan doen wat mans kan doen, maar hulle hoef nie. Dis ‘n keuse, nie ‘n uitgemaakte saak nie.”
Om ‘n beroep te betree wat tradisioneel deur mans gevolg is, gaan nie daaroor dat vroue “alles wil doen wat mans kan nie”; eerder dat hulle dieselfde vryheid en geleenthede wil hê sonder geslagsgeweld en ongelykheid.
Vroue wat wil en kan, kan tree vir tree saam met ‘n man fisieke werk doen, en selfs ‘n paar swaargewigte se oë laat rek. Hulle moet toegelaat word om dit te doen – net so mans wat ‘n beroep in ‘n tradisioneel vrouewêreld verkies.
In die moderne samelewing word daarna gestreef dat mense, ongeag geslag, hul volle potensiaal bereik, vry van stereotipering of sosiale beperkinge. Gelykheid, respek en die uitoefening van keuse is die grondslag hiervan.
Om as ‘n gelyke aanvaar en gerespekteer te word moet verdien word. Vroue wat ‘n beroep kies wat tradisioneel deur mans gevolg is, moet hul man staan – moenie dat kunsnaels, hormone, onvanpaste kleredrag of haarstyl jou verhoed om jou werk te doen nie. Moet dit ook nie as ‘n verskoning gebruik nie.
En wanneer ‘n vrou geboorte skenk (wat ‘n man nie kan nie): beywer jou as ma om jou kinders gebalanseerd en as ‘n aanwins vir die samelewing groot te maak.
“We’ve begun to raise daughters more like sons, but few have the courage to raise our sons more like our daughters.”
Gloria Steinem, politieke aktivis en skrywer.
Lees nog rubrieke hier.


