Deesdae sal Zibi sy volstruiskeel hees sing aan “Zap dit in ‘n Zibi, zap dit in ‘n Zibi-blik”, en sy besem- en asblikmaters sal hulself gedaan dans om die boodskap van dié anti-rommelveldtog oor te dra.
Vir dié wat nie weet nie: Zibi en sy maats is marionette uit die 1980’s wat deel was van ‘n nasionale veldtog teen morsjorse. Op TV-skerms en in radio-klingels is dié liedjie in meer as een taal gehoor en saamgesing, en Zibi se volstruisgesig het op asblikke gepryk.
Talle gemeenskap-optredes tydens verlede week se Mandeladag het skoonmaak in openbare ruimtes behels. Want Suid-Afrika is ‘n beeldskone land wat deur traak-my-nie-agtige-morsjorse bewoon word. Volgens bronne is mense morsjorse uit onkunde, moedswilligheid en nie-omgee.
‘n Mens kan jou verwonder dat elke dorp in hierdie publikasie, NoordkaapBulletin, se verspreidingsgebied soos ‘n omgedopte asblik lyk, ingesluit die Noord-Kaap se hoofstad.
Volgens nasionale en internasionale bronne (rommelstrooi is ‘n neiging oor die wêreld heen) dra verskeie faktore hiertoe by:
■ Morsjorse dink dit is iemand anders se werk om skoon te maak − trots of respek vir ‘n gebied bestaan nie.
■ Morsjorse is lui; hulle wil nie hul eie rommel saamdra nie en maak dit iemand anders se probleem.
■ Om te mors is die voorbeeld wat hulle van jongs gekry het. Mense mors meer in ‘n onversorgde omgewing wat reeds deur rommel bestrooi is.
■ Rommelstrooiers weet dit is verkeerd, maar weet ook: Niemand gaan my vervolg of aanspreek nie, want wetgewing hieroor word selde toegepas.
■ Hulle sê daar is te min asblikke; en asblikke wat oorloop-vol is en selde leeggemaak word, is ‘n aanmoediging om meer te mors. Asblikke word gesteel, of gevandaliseer.
■ Soms het mense nie ruimte om sakke rommel te stoor totdat dit deur munisipale dienste verwyder word nie, daarom word dit in enige openbare ruimte afgelaai.
Om rommelstrooi te stop sal ‘n veelsydige benadering en samewerking tussen inwoners, owerhede en opvoedingsinstellings verg.
Wetstoepassing moet plaasvind, en ook skoonmaak– en bewusmakingsveldtogte.
In Rwanda vind ‘n verpligte skoonmaak-dag op elke laaste Saterdag van die maand plaas. In Zimbabwe is die eerste Vrydag van elke maand ‘n skoonmaak-dag.
Dit kan gerus in Suid-Afrika gebeur. Benewens dat dit goeie oefening is, sal dit pragtig klink as almal saamsing soos Zibi en sy maters van ouds.


