Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Dis nie maklik daar buite nie. As jy kan gaan slaap met jou eie kussing, kan jy reeds dankbaar wees. Armoede, geldelike uitdagings, swaarkry, is ‘n werklikheid. Die lewe buitekant is somtyds nie ‘n plesier nie.

So sê Igshaan Sulliman van Upington Vrydagaand op een van sy video-uitsendings op Facebook.

Dit na aanleiding van die drie laerskoolmeisies van dié dorp wat meer as ‘n dag vermis was, en teen Vrydag laatmiddag ongedeerd gevind is ná ‘n wenk ontvang is. Sedert dit bekend geraak het dat hulle vermis is, het gemeenskaps- en polisielede onverpoos gesoek.

Sulliman sê hy het tydens die soektog deja vu gekry – hy kon nie help om dieselfde emosies te beleef as toe die gemeenskap in 2022 na die vyfjarige Lee-Verno van Wyk van Louisvale buite Upington gesoek het nie. “Boeta” het op 31 Mei 2022 verdwyn.

Anders as met die drie meisies, is hy steeds vermis.

“Boeta van Louisvale se verdwyning het nie soveel publisiteit soos Joshlin s’n gekry nie,” het Sulliman ook gesê, maar Boeta is een van talle kinders wat verdwyn het, en tot vandag toe steeds weg is.

Volgens Missing Children South Africa raak ongeveer 1 697 kinders per jaar in Suid-Afrika weg – dit is gemiddeld byna vyf kinders per dag.

Volgens die organisasie word ongeveer 77% van vermiste kinders uiteindelik gevind, met 23% wat vermis bly, of dood gevind word.

Sulliman herinner dat uitdagings in Suid-Afrika erg is; dat kinders die ergste onder armoede en werkloosheid ly; dat so baie kinders in geweldige moeilike omstandighede moet grootword.

Hy beklemtoon die betrokkenheid van ‘n gemeenskap, en dat die vind van die meisies nie sonder dié betrokkenheid moontlik sou wees nie.

Dat dié drie kinders gevind is, is te danke daaraan dat iemand iets gesê het.

Net so kan ‘n mens redeneer dat Boeta nie gevind is nie, want iemand wat iets geweet het, het niks gesê nie.

Dieselfde met Joshlin wat steeds weg.

‘n Mens durf nie net toekyk en bewus wees van onreg, verkeerdheid, boosheid, en niks daaraan doen nie.

Raak betrokke; doen wat jy kan; sê wat jy weet. Want iemand het altyd iewers hulp nodig. Jy ook.

You need to be Logged In to leave a comment.