Die mensdom is toe meer kwaad as ooit tevore. Kwaadheid en woede het blykbaar sedert 2016 oor die wêreld heen toegeneem.
“Hoekom loop almal se kwaad net oor?” Só het die weeklikse rubriekskrywer Hannes Noëth onlangs iemand aangehaal wat dié vraag aan hom gevra het.
In reaksie op sy rubriek lewer ‘n leser kommentaar op die webwerf: “Ek was een keer in ‘n werksonderhoud gevra of ek kwaad kan word, so asof dit veronderstel is om ‘n superpower te wees.”
Volgens die jaarlikse Gallup Global Emotions Report is kwaadwees weliswaar nié ‘n “superpower” nie, en voel al hoe meer mense ‘n gedeelte van ‘n dag kwaad, negatief of hartseer.
Na aanleiding van die jaarlikse verslag word dié opmerking in ‘n artikel op theguardian.com gemaak: “Dit is asof ons woede suur of galsterig geword het. As ‘n samelewing lyk dit asof ons nie uiting aan woede kan gee en dan aanbeweeg nie − ons prut daarin, totdat dit in uiterste gevalle as geweld en haat oorkook.”
Woede-uitbarstings kan glo in sommige gevalle produktief in ‘n spesifieke situasie wees en ‘n positiewe gevolg hê. Maar, reken die skrywer van die artikel, ons het ‘n wêreld geskep waarin dit verstommend maklik is om redes vir woede en kwaadwees te skep.
Ongelukkig het ons grootliks verleer hoe om enigiets konstruktief met dié woede te doen. Vroeër was daar ‘n voor-die-handliggende roete om woede en kwaadwees in aksie te omskep en sodoende ‘n oplossing te bereik.
Maar nou raak jy kwaad vir iemand in ‘n winkelsentrum wat te stadig voor jou drentel − iemand wat jy waarskynlik nooit weer in jou lewe gaan sien nie.
Of ‘n onbekende bestuurder wat voor jou op die snelweg aankruie.
Of jy vererg jou bloedig vir ‘n plasing op Facebook en vir kommentaar van iemand wat jy glad nie ken nie en stuur ‘n rits woede-emotikons saam met ‘n paar kras woorde die ewige digitale ruimte in.
Volgens hoe die algoritmes van die sosiale media werk, kry jy keer op keer sulke plasings − juis omdat jy daarop reageer het. En jy word nog meer kwaad. Intussen los so ‘n “gesprek” op die sosiale media niks op nie en voed net die kwaad.
Soos Noëth skryf: “Ontstel jou tog nie so gou nie. Haal maar ‘n slag asem, tel tot tien. En wees tog traag tot toorn.”
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


