Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Die grootste jeuggenerasie tot nog toe bewoon en bewandel die aarde. Hierdie generasie is deel van die wêreldbevolkingsyfer van agt biljoen wat in November 2022 bereik is.

Jeugdiges vorm die wêreld en sy bewoners se toekoms. Só sê António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies (VN) in sy boodskap vir Wêreldbevolkingsdag op Vrydag 11 Julie.

Volgens inligting op die VN se webwerf het dit 12 jaar vir die wêreldbevolking geneem om van sewe tot agt biljoen te groei. Volgens skatting gaan dit meer as 15 jaar neem om tot nege biljoen te vermeerder.

Dit is glo ‘n aanduiding dat die wêreldbevolkingsaanwas aan die afneem is.

Megatendense oor die wêreld heen (wat teenstrydig voorkom) moet deur regerings in ag geneem word: Die bevolkingsaanwas is geneig om die hoogste te wees in lande met die laagste inkomste per capita. Die hoër bevolkingsaanwas is gekonsentreerd onder die wêreld se armste lande, met die meeste in Afrika suid van die Sahara. Die gemiddelde lewensverwagting het van 64,6 jaar in die 1990’s tot 72,6 jaar in 2019 gestyg. In die vroeë 1970’s het ‘n vrou gemiddeld 4,5 kinders gehad, en teen 2015 het dit tot minder as 2,5 kinders per vrou gedaal.

Hiermee saam woon al hoe meer mense in stedelike gebiede. Die eerste jaar dat meer mense in stedelike as in plattelandse gebiede gewoon het, was 2007, en na raming sal 66% van die wêreld se bevolking teen 2050 in stede bly.

Op activesustainability.com skryf Yolanda G. Menéndez dat elkeen op aarde ‘n moontlikheid verteenwoordig, maar ook ‘n behoefte. Sy reken die werklike uitdaging is nie hoeveel mense op aarde is nie, maar hoe die samelewing organiseer word en stelsels werkend gehou word. Dit sluit ekonomiese ontwikkeling, indiensneming, inkomsteverspreiding, gesondheidsorg, onderwys, behuising, sanitasie, water, voedsel en energie in.

Guterres se wens vir Wêreldbevolkingsdag is dat regerings in beleide belê wat juis dit verseker.

Maar, met die waarneem van werklose jeugdiges wat ledig rondhang, riool wat in strate afstroom, kurkdroë waterkrane en regeringsprojekte wat met groot ophef aangekondig word maar gou fut verloor, vind ‘n mens bevestiging dat baie werk en durf nog voorlê.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article