Suiwer vreugde en trots het Sondagmiddag geheers toe vanjaar se Curriebeker-kampioene op hul tuisveld by die Suzuki-stadion in Kimberley aangekom het.
Ná Saterdag se sege in die eindstryd is dit die eerste keer in 55 jaar, en die vierde keer tot dusver, wat die Griekwas dié trofee lig.
Die eerste keer was in 1899, die jaar waarin die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) – ook as die Suid-Afrikaanse oorlog bekend – uitgebreek het. Toe die Griekwas die Curriebeker in 1911 die tweede keer gewen het, was dit ‘n tydperk tussen dié oorlog en die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918). In dié tydperk is vooruitgang in sommige industrië gemaak, maar ‘n groot aantal Suid-Afrikaners was nog nie op die been ná die Suid-Afrikaanse oorlog nie.
In die 59 jaar wat verloop het totdat die Griekwas die Curriebeker vir die derde keer in 1970 gewen het, het die Groot Depressie die land getref, die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het uitgebreek, ‘n politieke landskap is in Suid-Afrika geskep waarvan die rimpels steeds voelbaar is, en die Suid-Afrikaanse Grensoorlog het ‘n aanvang geneem.
Die 55 jaar sedertdien is gekenmerk deur die opkoms van weerstand- en versetbewegings in die politieke landskap, noodtoestande, einde van apartheid, oorgang na demokrasie, konsolidasie van mag, staatskaping, wydverspreide protes, Covid-19-pandemie, beurtkrag, verswakkende munisipale strukture, en ‘n eerste regering van nasionale eenheid.
Al hierdie aspekte is deel van ons Suid-Afrikanerskap. Dit is ons erfenis, goed of sleg, positief of negatief.
Vandeesweek op 24 September is Erfenisdag herdenk. Dit is glo ‘n dag om te besin oor Suid-Afrika se diverse kulture, tale en geskiedenis, en om eenheid te bevorder.
Remitly, ‘n internasionale oorbetalingsmaatskappy, doen jaarliks ‘n studie om die “aangenaamheidsaspek” van inwoners van ‘n land te bepaal.
Volgens die 2024-opname is Suid-Afrika die vriendelikste land ter wêreld: Inwoners is glo verwelkomend, en laat besoekers gemaklik voel.
“Dit is nie ongewoon om deur vreemdelinge gegroet te word terwyl jy in die straat afstap nie, en Suid-Afrikaners knoop in die algemeen maklik gesprekke aan, toon goeie humorsin, en maak grappies.”
Laat ons ook dié wenbeker lig en besef ons almal stap al ‘n lang pad saam, en laat ons oor ons nalatenskap besin.
- Lees nog rubrieke hier.


