Met vandeesweek se bekendstelling van NovaNews.co.za, waarvan NoordkaapBulletin deel is, word nóg ‘n mikpunt bereik sedert Media24 in Junie verlede jaar bekend gemaak het dat hy onder meer sy 21 gemeenskapskoerante gaan verkoop.
Weens ‘n proses deur die Mededingingskommissie is die goedkeuring daarvoor in November verleen, en kon die verkoopstransaksie aan Novus Holdings plaasvind.
Die afgelope jaar, sedert dié aankondiging gemaak is, is gekenmerk deur ‘n geskarrel agter die koerantblaaie (gedruk en digitaal) van dié gemeenskapskoerante.
Aanpasbaarheid, veerkragtigheid en gewilligheid om binne kort tye en teen spertye nuwe rekenaarprogramme en -stelsels baas te raak, het ‘n “normale gegewe” geraak, eerder as die uitsondering. Uitdagende tye is beleef, soos onder meer die tydperk toe elke koerant parallel op die ou en die nuwe stelsel beplan en uitgelê is.
Ongeag hiervan het elk van die koerante steeds weekliks sy verskyning op tyd gemaak en het ‘n mens gereeld asem opgehou oor die drukkersdui- wel van ouds wat saam met sy jonger digitale
broertjie lelik amok kan maak. Saam met die publikasie van die gedrukte koerante is elkeen se web- en Facebook-blaaie daagliks gevoer – ‘n proses wat aan oopbek-kuikens met ‘n nimmereindigende eetlus herinner. Tans is al die prosesse grootliks in plek en kan die omvattende nasionale nuusplatform, wat deur die verwantskap en verbintenis van dié gemeenskapskoerante gevorm is, voortdurend verfyn en verbeter word.
Dié gemeenskapskoerante is oor verskeie streke versprei, onder meer die Noord-, Wes- en Oos-Kaap, asook die Vrystaat. Ook ingesluit is die Boland-streek en Kaapse Skiereiland. Dekking aan nasionale en internasionale nuus word ook gegee.
‘n Groot pluspunt is dat die nuusplatform NovaNews.co.za geen betaalmuur het nie en dat die nuus gratis beskikbaar is. Boonop word Afrikaans en Engels gebruik.
Op dié nasionale nuusplatform, wat digitaal aan die nuusplatforms van elk van die 21 gemeenskapskoerante gekoppel is, kry lesers die geleentheid om bydraes op verskeie maniere te lewer.
‘n Dagboek van gebeure, meningsopnames oor verskeie aspekte, asook nuus in verskeie kategorieë soos skole, leefstyl, sakenuus, kompetisies, menings en resepte is op NovaNews.co.za beskikbaar, en op die nuusplatforms van die individuele koerante.
Sinvolle tyd kan op dié platforms bestee word. Dít alles terwyl lesers steeds kan uitkyk vir elke week se gedrukte koerant wat steeds sy unieke plek in die samelewing het.
- Lees nog rubrieke hier.


