Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Lentedag is op die voorstoep met ‘n bossie pienk bloeisels in die hand en gereed om aan die deur te klop. Met blydskap wag ons reeds aan die anderkant van die deur, gereed om dit met die eerste klop oop te ruk.

Ná genoeg koue, ‘n winterson wat traag is om soggens sy kop uit te steek en ‘n wasgoedmandjie wat vroeg in die week reeds boepens is van al die winterwasgoed, is lente meer as welkom.

Hoewel ons weet dat Winter iewers in September nog ‘n keer of wat sy ysige tande sal wys, is ons vol hoop vir dit wat Lente bring. Ons het selfs moed om sommer vir Winter terug tande te wys.

Seisoene simboliseer die siklus van die lewe, met elke seisoen wat verskillende fases teenwoordig. Dit beleef ons elkeen, en dit word oor dekades deur navorsers en studies bevestig. Digters en skrywers raak eeue reeds liries daaroor, en die vergelyking word in verskeie kulture en antieke tradisies gebruik om die verloop van die lewe weer te gee.

In die aanlyn tydskrif meer.com word geskryf dat lente ‘n nuwe begin, jeug en hoop simboliseer. Somer beliggaam groei, oorvloed en jong volwassenheid, en herfs volwassenheid, verandering en bepeinsing. Winter verteenwoordig eindes, rus en selfs ‘n worsteling, voordat die siklus weer begin.

Met Lente op die voorstoep mag ‘n mens opnuut op vernuwing hoop: Mag diegene wat die septer swaai − op nasionale en plaaslikeregeringsvlak − se rooskleurige brille hul tint verloor. Mag hulle dit raaksien wat lede van die publiek daagliks raaksien, en waarmee hulle elke dag moet saamleef: Vervalle infrastruktuur, droë krane en nat strate weens oorstromende rioolstelsels of lekkende waterpype. Ook powere diens in hospitale, klinieke en ander kantore.

Mag diegene met die septers besef dat hulle in diens is, en nie gedien moet word nie.

Mag lede van die publiek met donkieklappe langs die oë meteens duidelik en helder sien hoe liederlik lelik die neergooi van rommel is − dat dit verrotting van die gemoed kweek. Mag elkeen voor sy eie deur vee − letterlik en figuurlik.

En soos wat ene Luther Burbank geskryf het: “Don’t wait for someone to bring you flowers. Plant your own garden and decorate your own soul.”

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.