Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Oor vyf weke is Kersgeskenke reeds oopgemaak en die laaste oorblykos van Kersete net ‘n herinnering.

Vanjaar het die tyd met groot tree oor weke en maande van die kalender gestap.

Of het dit?

Waarom voel dit soms of die tyd stadig verloop, en waarom is tyd soms ‘n Olimpiese atleet wat die 100 m hardloop?

Is dit soos die Engelse spreekwoord lui: “Time flies when you are having fun”?

Wanneer jy in ‘n onverbiddelike werksroetine gedompel is, is die dag in ‘n oogwink verby en gans te kort. Dit allermins weens pret, soos wat die uitdrukking suggereer.

Dan kry jy dae waarin die tyd heerlik talm, jy beleef, jou sintuie benut, weer soos ‘n mens voel.

Dr. Steve Taylor, dosent in sielkunde aan ‘n Britse universiteit skryf ons ervaring van tyd is veranderlik en subjektief. ‘n Element wat daartoe bydra, is inligtingverwerking.

Bly ons in ‘n roetine, snel die tyd verby want hoewel sekere take nuut of anders is, bly die roetine dieselfde en tyd gaan in ‘n waas verby.

Breek ons uit die roetine is daar meteens nuwe inligting wat ons stukkie vir stukkie verwerk, waartydens ons elke minuut belééf.

Taylor reken dit voel of tyd saam met ‘n hoër ouderdom versnel – dit is bloot omdat ‘n werks- en lewensroetine dan behoorlik gevestig is met weining nuwe ervarings.

Net so is dit wanneer jy deur eindelose plasings op sosialemediaplatforms blaai: Jy dink jy sien en beleef nuwe dinge, maar omdat jy ‘n passiewe deelnemer is, vlieg die tyd in ‘n waas verby sonder diepe belewing.

Australië se besluit om sosiale media vir kinders onder 16 jaar te verbied, het wye debat ontketen. Hiervolgens moet sosialemedia-maatskappye vanaf 10 Desember alle billike maatreëls geneem het om te verhoed dat diegene jonger as 16 nie ‘n profiel op die platforms kan skep of ‘n rekening daarop oopmaak nie. Kinders wie reeds so ‘n rekening het, se rekening moet onaktief gemaak of verwyder word. Hoewel die land se regering erken vele skuiwergate bestaan in die beslissing, is hulle oortuig dit sal die jeug leer om sinvolle tyd aan hul eie lewe te bestee, pleks van bykans vyf uur per dag aan (soms valse) glimpse van ander se lewe.

LEES OOK: Australia to prohibit youngsters from accessing YouTube

Neem dit wat Taylor skryf ter harte, en lééf die lewe: Keer dat tyd verbysnel – volg nuwe ervarings na en kom uit jou roetine en gemaksone.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article