So in die middel van die derde laaste maand van die jaar verskaf dit steeds genoegdoening en is dit nooit te laat nie om ‘n nuwe blaadjie om te slaan.
Só kan ‘n mens op ‘n Sondagaand of Maandagoggend jou dagboek na ‘n skoon bladsy omblaai en die vorige week se afsprake, take, te-doen-lysies, notatjies, afmerkery en ‘n warboel van doodkrappery agterlaat. Jy vryf moedig die skoon bladsy plat en begin met nuwe inskrywings.
Maar dan moet jy terugblaai na gister en eergister. By dié dae is onafgehandelde take wat oorgedra moet word en nie agterweë mag bly nie.
Blaai ‘n mens deur die digitale bladsye van die wêreldwye web merk jy dat Wêreldvoedseldag − op 16 Oktober − met die sterfdag van Marie Antoinette saamval.
Dié Franse koningin, vrou van koning Louis XVI, is in 1793 tydens die Franse Revolusie onthoof. Sy het die simbool van haat geword weens haar uitspattige leefstyl en ligsinnigheid.
“Laat hulle koek eet,” was glo haar reaksie op die mededeling dat die armes geen brood het om te eet nie. Dat dié opmerking glo slegs ‘n legende en nie die waarheid is nie, is nie nou ter sprake nie.
(Wat wel so is, is die sogenaamde Marie Antoinette-sindroom: dat iemand se hare oornag grys word. Dié koningin se hare het glo die nag voordat sy haar laaste tree na die valbyl gegee het, grys geword. Sy was slegs 38 jaar oud).
In 2025, altesaam 232 jaar nadat haar kop gerol het, is die spreekwoordelike brood en koek buite bereik vir ‘n geraamde 673 miljoen mense oor die wêreld heen wat in hongersnood leef.
Volgens die Wêreldvoedselforum is die erns van voedselonsekerheid “oorweldigend”, terwyl stygende vlakke van vetsug en wydverspreide voedselvermorsing voorkom. Die forum beskryf dit as ‘n stelsel uit balans − waar oorvloed van voedsel en die afwesigheid daarvan langs mekaar bestaan.
Op Wêreldvoedseldag se hakke, op 17 Oktober, volg die Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede. Organisasies hierby betrokke is van mening dat verskeie haalbare verskuiwings vereis word om armoede uit te wis. Sou regerings vrees om beheer te verloor indien dié verskuiwings meegebring word en die armes nie meer met die teelepel gevoer word nie?
Daarom ‘n kniebuiging vir individue en organisasies wat stilweg in woonbuurte ‘n verskil meebring. Op eie stoom poog hulle om armes se lewe te verbeter en hongerte volhoubaar te stil.
Intussen was die vele Marie Antoinettes in die lewe hul (poffer)hande in onskuld.



