Platfontein
‘n Deel van die R31 tussen Kimberley en Barkly-Wes, waar die riooldam by Platfontein enkele jare terug oor die pad gestoot het. Foto: Argief

Kimberley, onder beheer van die Sol Plaatje-munisipaliteit, is willens en wetens toegelaat om terminaal siek te word. Riaan Pienaar* beskryf hoe dié hoofstad van die Noord-Kaap nog ‘n siek stad is – een wat 33 jaar gelede met ‘n vyfster beroepsveiligheidsgradering bekroon is. Dit was ‘n prestasie wat deur slegs twee ander munisipaliteite in die land behaal kon word en het vereis dat hulpbronne en bates voortreflik bestuur word. Hy gee sy mening oor hoe Kimberley so “siek” geword het:

Kimberley het drie riool-vleie: die een by Platfontein op pad na Barkly-Wes wat reeds etlike jare bestaan; Kamfersdam wat nou al so deur rou riool besoedel is dat die duisende klein-flaminke wat daar gebroei het, moes vlug; en ‘n nuwe een wat naby die lughawe vorm aanneem omdat Greenpoint se suiweringswerke nie meer werk nie.

Flamingoes op Kamfers Dam
Pienk volwasse flaminke vlieg in 2020 oor ander volwassenes en jong gryskleurige kuikens op Kamfersdam. Vroeër jare was die duisende flaminke ‘n groot toeriste-aantreklikheid. Tonele soos dié bestaan nou slegs op advertensiepamflette. Foto: Ester van der Westhuizen-Coetzer

Van ál die dienste wat ‘n munisipaliteit lewer is die wegvoer van menslike afval die allerbelangrikste.

Die afwesigheid van al die ander dienste – watervoorsiening, paaie, stormwaterstelsels, vullisverwydering, elektrisiteit, beskermingsdienste – behalwe in ‘n mindere mate openbare gesondheidsdienste – is nie so lewensbedreigend soos ‘n rioolstelsel wat buite werking is nie.

Wat gaan jy maak as jy nie meer jou toilet kan gebruik nie?

Platfontein

Sover vasgestel kon word, word die riool-vlei by Platfontein vanaf ‘n stukkende rioolpyp in Galeshewe, Kimberley, gevoed. Toe die watervlak die pad na Barkly-Wes oorstroom het, is dié gedeelte van die pad herbou, maar die lekkasie is nie herstel nie. Skoon water het darem ook in die vlei beland toe die pyp wat water vanaf die Riverton-waterverwerkingsaanleg vervoer, gelek het.

Een van die voertuie wat ‘n paar jaar gelede in die riooldam by Platfontein beland het toe die watervlak tot teen die teer geklots het. Foto: Argief

Kamfersdam

Die Homevale-rioolsuiweringswerke is veronderstel om die grootste gedeelte van die stad se afvalwater tot die voorgeskrewe standaard te suiwer om storting in die Kamfersdam toe te laat. Hierdie water was vir baie jare heeltemal geskik om die bekende versameling klein-flaminke te voed en te onderhou.

Nou werk meeste van die belugtingsdamme nie en is met digte gras oorgroei. Rou riool vloei direk in die pan, wat ‘n ekologiese ramp veroorsaak het. Die dam is so oorstroom dat die vuil water die Transnet-spoorlyn bedek en buite aksie gestel het, met ernstige ekonomiese gevolge.

In April vanjaar het die DA ‘n klagte by die Menseregtekommissie ingedien oor ‘n sloot wat rou rioolwater vanaf ‘n stukkende pyp verby die Homevale-rioolwerke direk in Kamfersdam stort.

‘n Besinkingsdam by die wanfunksionle Homevale-watersuiweringsaanleg wat in onbruik is. Foto: Charné Kemp

Greenpoint

Die pyp wat die versamelde erioolwater na die Greenpoint-rioolwerke vervoer, het maande gelede gebreek met die gevolg dat die riool nie die werke bereik nie, maar die veld instroom. Om te verhoed dat die water die myngebied binnestroom, het die mynmaatskappy ten duurste met swaar masjinerie ‘n twee meter hoë grondwal gebou. Nou vloei die rioolwater na ‘n nuwe vlei op aangrensende plase. Van hierdie werke se belugtingsdamme is, net soos dié by Homevale, toegegroei met lang gras.

Pompstasie

Pompstasies word gebruik om rioolwater hoër op te pomp wanneer daar nie gravitasie is nie. Hierdie pompstasies is nie veronderstel om aanstootlik te wees nie en is daarom dikwels in of naby woongebiede geleë.

Dit is ook die geval met die pompstasie in Hillcrest, ‘n gegoede woonbuurt. Maar die pompstasie is nou reeds vir maande buite werking, met munisipale amptenare wat skynbaar geen ag slaan op die inwoners se volgehoue klagtes nie. Omdat die pompe nie werk nie, vloei die rou rioolwater vryelik die veld in, naby talle huise.

Die feit is dat, indien die pyp na die pompstasie afgesluit sou word om die oorstroming te staak, die rioolwater tot so ‘n mate in die pype kan opdam dat toilette en baddens nie gebruik kan word nie.

Minister se werkspan

So ver terug as 28 Julie 2023 verklaar die departement van water en sanitasie dat minister Senzo Mchunu ‘n werkspan aangestel het om die Sol Plaatje-munisipaliteit se water- en sanitasie-uitdagings op te los.

Senzo Mchunu
Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie. Foto: Verskaf

Dit ná ‘n vergadering tussen hom, die Noord-Kaapse premier, dr. Zamani Saul, en die plaaslike munisipaliteit die vorige dag en omdat die munisipaliteit nie uitvoering kon gee aan die opdrag om die storting van rou riool in Kamfersdam en Platfontein te staak nie. Geen verslae oor die werkspan se werk kon opgespoor word nie.

Hofbevel

Na aanleiding van eise deur die eienaar van die plaas waarop Kamfersdam geleë is, het die Noord-Kaapse hooggeregshof in Maart 2024 ‘n bevel uitgereik met stappe wat deur die munisipaliteit gedoen moes word om die Homevale-rioolsuiweringswerke te herstel en die storting van rou riool in Kamfersdam te staak.

Dead bird op Kamfersdam
Een van talle dooie watervoëls wat in Kamfersdam gevind word. Foto: Verskaf

Omdat hierdie bevele nie behoorlik nagekom is nie, het die eienaar ‘n saak van minagting van die hof teen die munisipaliteit en die munisipale bestuurder aanhangig gemaak.

Die hof het op 24 Maart onder meer gelas dat die munisipaliteit nie later nie as 30 Mei ‘n verslag indien oor die vordering gemaak met die staking van rioolstorting in Kamfersdam; en dat die verslag inligting moet bevat oor die stappe wat tot 20 Mei gedoen is om te verseker dat geen onbehandelde riool of afvalwater met ‘n e.coli-inhoud wat die wetlik voorgeskrewe perk oorskry in enige gedeelte van Kamfersdam of die plaas waarvan dit deel uitmaak, gestort word nie.

Die verslag is op 30 Mei ingedien. Daar is ‘n gedeeltelike verbetering in die gehalte van die water wat in die dam gestort word, maar nog nie naby die voorgeskrewe standaard nie.

Besoek van adjunk-minister van water en sanitasie

Die DA-adjunkminister van water en sanitasie, Sello Seitholo, het op 22 Julie Kimberley besoek, waarskynlik in reaksie op klagtes oor die stad se rioleringsprobleme. Hy was sekerlik nie beïndruk deur die afwesigheid van die uitvoerende burgemeester, munisipale bestuurder en lede van die burgemeesterskomitee nie. Ná sy besoek aan Homevale en Greenpoint se suiweringswerke is daar hoop dat hy dringende stappe gaan doen om die situasie aan te spreek.

Kamfersdam
Sello Isaac Seitlholo, adjunkminister van water en sanitasie, praat met Ester van der Westhuizen-Coetzer, Ekapa-myn se omgewingspesialis en beskermheer van die kleinflaminke op Kamfersdam-pan. Foto: Charné Kemp

Redes vir verval

Hoe is dit moontlik dat ‘n vyfster-munisipaliteit binne drie dekades ‘n rioolgat kan word? Daar kan baie redes wees: kaderaanstellings, swak bestuur, verkeerde prioriteite, swak advies, politieke inmenging deur leke-politici, onkunde, gebrekkige opleiding, onetiese ingesteldheid en blote agterlosigheid.

Die verskoning waaragter altyd geskuil word, is geldtekort. Maar in Kimberley se geval is die watervoorsiening net so afgeskeep as die rioolsuiwering, met die gevolg dat 64% van die gesuiwerde water verlore gaan. Dit is sowat R120 miljoen per jaar wat toegelaat word om weg te spoel.

Hoe kan ‘n geldtekort in hierdie omstandighede as ‘n verskoning aangebied word?

Wat nou?

Hoe kan ‘n stad wat so siek is, weer gesond gemaak word? Beslis nie deur dieselfde mense wat die siektetoestand veroorsaak het nie.

Daar moet besef en onthou word dat riolering die heel belangrikste munisipale diens is waarsonder ‘n gemeenskap nie kan oorleef nie.

Die staat moet die gebrekkige rioolsuiwering as ‘n noodgeval van die hoogste prioriteit identifiseer en verantwoordelikheid vir die herstel aanvaar.

Die departement van water en sanitasie beskik ook nie oor die nodige kundigheid en of kapasiteit nie en sal van die private sektor gebruik moet maak om die hele proses van herstel oor te neem. En daar ís geld vir dit.

Wat is die noodsaaklikste: Om die politici se praatgebou teen R4,4 miljard te herstel, of om lewensbedreigende, stukkende rioolstelsels weer aan die werk te kry?

  • *Pienaar is ‘n afgetrede munisipale amptenaar met meer as 50 jaar ervaring. Hy was onder meer stadsklerk van die voormalige Kimberley-stadsraad, en president van die Instituut van Stadsklerke van Suid-Afrika.
Die oorvol Kamfersdam – weens rioolwater wat daarin vloei – het reeds die treinspoor oorstroom. Foto: Helena Barnard

You need to be Logged In to leave a comment.