Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

‘n Mens is allermins lus vir mooipraatjies wanneer jy met ‘n ou braaitang, wat lank reeds vir dié doel eenkant gehou word, ander se gemors op die sypaadjie voor jou huis optel. Want jou erf is presies daar waar die halfjackie, pakkie skyfies, braaihoender of ander eetding klaar verorber is, en waar swaartekrag as’t ware die leë verpakking uit ‘n willose hand dwing.

Dan oorstroom ‘n mangat van ‘n hoofrioolpyp, wat knus teen jou huis verbystrek, dae aaneen.

Wanneer dit uiteindelik ontstop is, loop jy vies-vies en tel die onnoembare goed wat die munisipaliteit uit die rioolpyp gegrawe en net daar gelos het, met dieselfde tang op. Al wil jy nie eens met ‘n tang daaraan raak nie.

Maar as jy dit nie doen nie, gaan niemand dit doen nie. En sienende blind dit systap.

Dan word die vuilgoedsakke in die straat, wat een maal ‘n week reg oorkant jou hek opgestapel word, eers dae later deur die munisipaliteit afgehaal. Teen daardie tyd is die sakke bykans leeg gekrap, met die rommel omtrent die hele straat en sypaadjie volgewaai.

Dan kom jy in woonbuurte en dorpe waar bogenoemde die norm is; waar mense elke dag in sulke omstandighede leef en dit op die oog af aanvaar.

Hier is soveel kwessies waaroor ‘n mens só vuisvoos voel dat jy jouself opgekrul in ‘n hoek bevind: pasiënte wat in staatshospitale omkom weens swak sorg en powere infrastruktuur; nepotisme − nog ‘n onbevoegde, of een met ‘n ellelange misdaadrekord, in ‘n sleutelpos aangestel (gepaardgaande met ‘n hengse ampsbenaming en ‘n nog groter salarispakket); beloftes van beter omstandighede wat nooit ‘n werklikheid word nie; die kontras tussen amptenare met duur Duitse motors en ontwerpersklere, teenoor wanhopige, honger kinders wie se kanse op ‘n beter lewe weens korrupsie van hulle weerhou word; infrastruktuur wat uitmekaarval; werkloosheid; al hoe meer haweloses op straat; geweldsmisdaad; gesinsgeweld.

Die lys is byna eindeloos.

Al is dit hoe moeilik: Tree weg uit jou wegkruiphoek en takel ‘n kwessie wat jou na aan die hart is, stukkie vir stukkie − al voel dit of jy nie eens met ‘n tang daaraan wil raak nie.

Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.