Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Diegene wat die woorde onthou en wat by die hoë note van die koorgedeelte kan bykom, kan nou die ou liedjie, “Dis heerlike lente, die winter’s verby” uit volle bors sing.

Dié wat net vaagweg die wysie onthou, of diegene wat weens ‘n jong ouderdom dit glad nie ken nie, kan ‘n deuntjie van eie keuse neurie en buite oplet hoe boomtakke asof oornag blare gekry het.

Sien raak hoe plante wat oënskynlik in ‘n winterslaap was, meteens blom. Luister hoe voëls vrolik sing. Sien wolkformasies raak wat deur die dag vorm. Dit, en ook dat ‘n mens nie meer lus is vir baadjies en serpe nie, is ‘n seker teken dat lente hier is.

So in die eerste amptelike maand van lente vind bewusmaking van demensie plaas, wat veel eerder met die winter van ‘n mens se lewenssiklus vereenselwig word: September is Wêreld-Alzheimer-maand.

Demensie is die sambreelterm vir ‘n versameling simptome wat die funksionering van die brein aantas en ‘n invloed op geheue, denke, gedrag en emosie het. Simptome kan geheueverlies; uitdagings daarmee om die regte woorde te vind, of te verstaan ​​wat mense sê; uitdagings daarmee om roetinetake uit te voer; of persoonlikheidversteurings en buierigheid insluit.

Die algemeenste hiervan is Alzheimer se siekte, wat 50% tot 60% van mense met demensie aantas. Meer as 55 miljoen mense oor die wêreld heen leef tans met demensie, aldus alzint.org, en dié getal sal na raming teen 2050 na 139 miljoen styg.

Demensie beïnvloed nie net die lyer nie, maar het ‘n direkte invloed op gesin en familie, wat in baie gevalle as versorgers moet optree.

September se internasionale bewusmakingsveldtog deur Alzheimer Disease International word in Suid-Afrika deur die Vereniging vir Demensie en Alzheimer se siekte (Adasa) uitgevoer, met die tema “Ask About Dementia, Ask About Alzheimers”.

Demensie is die hoofoorsaak van afhanklikheid onder bejaardes, en ‘n nuwe geval kom elke drie sekondes êrens in die wêreld voor. Een uit twee mense sal hierdeur geraak word − hetsy deur daarmee gediagnoseer te word, of deur vir iemand te sorg, aldus adasa.org.za.

Boonop het demensie geen sosiale, ekonomiese of etniese grense nie. Daar is geen kuur nie.

Deur bewusmaking hiervan − en deur te vra − kan ‘n mens beter voorbereid wees vir dié wintertyd van ‘n lewe, al is dit nou eers lente.

You need to be Logged In to leave a comment.