Die besluit om gr. R deel te maak van verpligte skoolopleiding is ‘n dapper stap en op papier ‘n prysenswaardige mylpaal. In praktyk is die prentjie egter nie so rooskleurig nie, skryf dr. Juané van der Merwe-Mocke, adjunkhoof en hoof van regsdienste by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).
Die instel van ‘n verpligte gr.R dui op ‘n daadwerklike poging om aan elke kind die beste moontlike begin tot hul skoolloopbaan te gee. Dit bevestig die grondwetlike verbintenis van toegang tot basiese onderwys.
Die werklikheid is egter dat Suid-Afrika nie genoeg klaskamers, onderwysers en hulpbronne het om gr.R vir alle kinders te bied nie.
Baie ouers wat hul kinders skool toe wil stuur, sal ontdek geen plek is beskikbaar nie.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, erken die uitdagings. In ‘n brief aan Fedsas het sy die huidige data oor provinsies se vlak van gereedheid as “onbevredigend” beskryf en bevestig dat die departement van basiese onderwys (DBO) saam met provinsiale onderwyshoofde werk om gapings in beplanning en implementering aan te spreek.
Die DBO het ook die Nasionale Tesourie genader vir bykomende finansiering, insluitend ‘n jaarlikse bedrag van R1,8 miljard om toelaag-gegronde gr.R-praktisyns in permanente poste te kry en R1,3 miljard om bykomende poste te skep. Dit is welkom, maar dui op die omvang van die probleem: Die stelsel kan nie voorsien wat die wet vereis nie.
Geen ‘ingeboude meganisme’ vir gr.R-poste nie
Gr.R-poste vorm nie deel van die amptelike norme vir posvoorsienings wat gebruik word om opvoederposte aan openbare skole toe te ken nie. Daar is geen ingeboude meganisme om toe te sien dat elke skool ‘n regverdige toekenning van gr.R-poste ontvang nie. Provinsies wat wel wil of kan beplan, sal nie kan nie.
Fedsas het onlangs uitgelig dat talle provinsies nie die jaarlikse sperdatum van 30 September kon haal vir die uitreik van posvoorsieningsinligting vir 2026 nie. Dit het ‘n beduidende invloed op die finalisering van skole se begrotings en planne vir personeelaanstellings gehad.
Die afwesigheid van gr.R in hierdie raamwerk maak die situasie meer onhoudbaar. Daar is geen verband tussen beleidsambisie en administratiewe werklikheid nie.
‘Sal ouers vervolg word?’
Die wet sê ouers wat nie toesien dat hul kinders gr.R bywoon nie, is skuldig aan ‘n oortreding. Die staat weet egter dat duisende ouers nie die verpligting kan nakom nie. Sal ouers vervolg word? Die kort antwoord is nee. Gwarube het bevestig dat vervolging weens nienakoming “nie outomaties is nie” en dat onvoldoende plek in skole waarskynlik genoegsame rede bied vir die regsbeginsel van “billike oorsaak”. Dit beteken ouers mag nie strafregtelik vervolg word indien daar nie gr.R-plekke beskikbaar is nie.
LEES OOK: Historiese samewerking tussen skole bring astroturfhokkiebaan na Kimberley
Die regering se nuutste pogings, soos ‘n versoek vir bykomende finansiering en instruksies aan provinsies om nie ouers te vervolg waar plek in skole nie beskikbaar is nie, dui op sistemiese verval eerder as vooruitgang. ‘n Wet wat onmiddellik gevolg word deur instruksies om dit nie af te dwing nie moes in die eerste plek nie op die wetboek verskyn het nie.
Voordat die president die BELA-wet onderteken het, moes die regering eers toegesien het dat voeldoende infrastruktuur, poste en hulpbronne beskikbaar is.
Verpligte gr.R is ‘n edele ideaal. Dit behoort ‘n belofte van inklusiwiteit en geleentheid te wees. Maar dit sal ‘n leë belofte bly totdat die regering infrastruktuur uitbrei, in opleiding van opvoeders belê en toesien dat elke kind ‘n plek het.
Elke keer dat ons toelaat dat ‘n wet slegs op papier bestaan, takel ons weg aan die oppergesag van die reg.





