Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Met Kersfees slegs ‘n klipgooi ver is die nagenoeg $2,5 biljoen wat glo jaarliks rondom dié feestyd oor die wêreld heen bestee word, besig om van hande te verwissel.

Oor die wêreld heen bestee gesinne glo gemiddeld 156% van hul maandelikse inkomste aan die feestyd, met diegene in Lebanon wat glo tot 688% bestee en dié in Nederland slegs 19%, aldus ‘n verslag van World Remit.

Volgens die 2024-verslag wat deur TGM Research oor koopgewoontes tydens feestyd saamgestel is, verkies Suid-Afrikaners eerder begrotingsvriendelike en bekostigbare uitgawes, met ‘n redelike fokus op versigtige besteding.

Klere bly die gewildste artikel om as geskenk te koop (86%); gevolg deur kosprodukte en drank (72%); speelgoed (48%); elektronika (41%); geskenkbewyse (41%); elektriese huistoestelle (38%); skoonheidsprodukte (37%); versierings (30%); juwele (30%); en reis (23%). Onderaan dié lys is boeke, en skenkings aan liefdadigheid, elk met 19%.

Skenkings aan liefdadigheid hoef nie noodwendig ‘n uitgawe te wees nie aangesien talle organisasies liefdadigheidswinkels besit, onder meer die Kimberley DBV. Aan dié liefdadigheidswinkels, en ook aan liefdadigheidsorganisasies, kan ‘n mens daardie nuttige en goed opgepaste items skenk wat jy en niemand in jou huishouding meer gebruik nie.

Dit is te danke aan liefdadigheid dat die bestuur van die Helen Bishop-huis in Kimberley, waar meer as 60 kinders met spesiale behoeftes en erge gestremdhede heeltyds gehuisves en versorg word, met dankbaarheid op 2025 kan terugkyk.

So ook is die bestuur van die Sally Aucamp-huis, waar volwassenes met fisieke gestremdhede versorg word, “ongelooflik dankbaar vir engele” wat hulle met skenkings ondersteun.

Die Walk-By-Faith-sopkombuis in Santa Centre, Kimberley, kon vanjaar weer honger mense voed en behoeftiges met noodsaaklikhede help – te danke aan skenkings.

Ook Solly’s Beacon of Hope van Upington plaas ‘n lys van dit waaroor dié sopkombuis dankbaar is, en bedank elke skenker persoonlik.

Hou gee van geskenke binne perke

Volgens talle bronne word ‘n sewe-geskenkreël vir Kersfees voorgestel wat verhoed dat die gee van geskenke buite beheer raak:

  • Iets wat hulle regtig wil hê;
  • iets wat nodig is;
  • iets om te dra;
  • iets om te lees;
  • iets om te doen;
  • een geskenk vir die hele gesin; en
  • een geskenk om aan ander te gee.
  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article