Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Terwyl hewige vloede in die noorde van die land lewe ontwrig en lewe neem, duur die geensins makliker stryd teen wegholbrande en droogte in dele van die Wes- en Suid-Kaap, en die Karoo, voort.

Oral oor die land heen woed ‘n politieke magstryd op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak – ‘n stryd wat tot en met die plaaslike regeringsverkiesings later vanjaar meer hewig sal word.

By skole het leerlinge hul eie stryd in die kleine met die inwin van nuwe kennis aangepak, en studente mik om eersdaags dieselfde te doen. Ook vir werknemers wag waarskynlik ‘n fase van kennis inwin.

Volgens talle bronne leer elke mens elke dag iets – selfs al is dit net hoe om veters vas te maak, fiets te ry, uit te vind waarvoor die geweefde strepe op handdoeke bestaan, of om die truuks van nog ‘n app te snap.

Met die Internasionale Dag van Onderwys, eersdaags op 24 Januarie, is die klem op onderwys se rol in vrede en ontwikkeling, die bevordering van lewenslange leer en die bemagtiging van individue.

In die proses van leer speel toegang tot tegnologie, en die wêreldwyeweb met sy apps en platforms, ‘n reuse-rol.

Soos wat skole en onderwyskundiges oor die wêreld heen egter besef het, kan dié apps en platforms egter leer benadeel – afhangend van hoe dit aangewend word.

Al hoe meer skole, ook in Suid-Afrika en die Noord-Kaap, verban die gebruik van selfone tydens skoolure. Studies dui daarop dat onbeperkte selfoongebruik tydens skoolure leer en aandag benadeel, gedragsprobleme verhoog, en risiko’s vir geesteswelstand inhou. Om ‘n selfoon tydens skoolure van leerlinge te verwyder, lei tot verbeterde gedrag en leer, hoër punte en vermindering van kuberboeliery en kullery in toetse of eksamens.

Boonop is dit bekend dat oormatige gebruik van sosialemediaplatforms tot verhoogde angs, lae selfbeeld, ontwrigte slaap en geestelike moegheid lei, ook vir volwassenes. Dit is weens voortdurende vergelyking, inligtingoorlading en minder kontak met die werklikheid – weereens, afhangend van hoe jy die platforms gebruik.

Tog is die wêreldwyeweb propvol inligting oor hoe individue hul lewe deur aanlyn leer verbeter en hulself bemagtig. Aanlyn kan jy enigiets leer – van kodering, enige skoolvak, tuinmaak, meganika, tot koekbak of borduur.

Terug na lewenslange leer: Gebruik die wêreldwyeweb ten beste om iets daadwerkliks by te leer, en nie net vir vlugtige, niksseggende en uitmergelende spookasem-tydsverdryf nie.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article