Die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi vind vanaf weer eersdaags in Kimberley plaas
Die Absa Wildeklawer-skolesporttoernooi vind vanaf weer eersdaags in Kimberley plaas. Foto: Wildeklawer

Die 15de Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi wat van 23 April tot 3 Mei in Kimberley plaasvind, is groter as ooit. Vier sportsoorte word by vyf venues gespeel en die byeenkoms duur langer as voorheen.

Cassie Karstens, toernooi-organiseerder, sê seuns- en meisieshokkie word as die vierde sportsoort by rugby, sokker en netbal gevoeg.

Die hokkie is ‘n uitnodigingsbyeenkoms waarin 16 Noord-Kaapse o.19-spanne by die Sol Plaatje-universiteit (SPU) en by St Patrick’s CBC se bane speel. Die nuwe baan by die Kimberley Boys’ High School mag dalk voltooi wees, sê Karstens.

“Oor die afgelope 14 jaar het Wildeklawer gegroei tot een van die grootste internasionale skolesporttoernooie. Vanjaar gaan 5 357 spelers en beamptes deelneem.”

Volgens Karstens is verblyf in Kimberley en omliggende dorpe reeds vol bespreek.

“Dit is weer ‘n enorme ekonomiese inspuiting vir die stad, met ouers en belangstellendes wat moet eet en brandstof ingooi. Altesaam 126 spanne van 236 skole neem deel. Van die land se voorste skeidsregters sal wedstryde lei.”

Altesaam 44 Noord-Kaapse spanne neem deel.

Belangrikste wedstryde direk uitgesaai

Luidens ‘n inligtingstuk is die oogmerk om “die grootste skolesporttoernooi in die wêreld aan te bied wat jeugdiges motiveer om op die hoogste vlak aan sport deel te neem, wat ‘n gesonde gees en liggaam bevorder.”

Absa Wildeklawer Skolesportnooi
Sport van die boonste rak word verwag in vanjaar se Absa Wildeklawer Skolesporttoernooi, wat eersdaags in Kimberley aangebied word. Hier meet die spanne van Paul Roos Gimnasium en die Hoërskool Waterkloof in 2018 kragte.

Foto: Facebook/Wildeklawer Sport Credit: SYSTEM

Die toernooi het reeds ‘n handvol Springbok-rugbyspelers opgelewer. Dit sluit Faf de Klerk in wat in 2009 gespeel het, Handré Pollard in 2011 en 2012, Jesse Kriel in 2012, Manie Libbok in 2013 en 2014, en Damian Willemse in 2016.

SuperSport Skolesport sal van die belangrikste rugby- en netbalwedstryde regstreeks op TV uitsaai, en opnames van wedstryde. Verlede jaar het byna 1,5 miljoen kykers dit in Suid-Afrika en die buiteland gekyk.

Die o.13-junior rugby- en netbaltoernooi vind van 23 tot 26 April by die Laerskool Newton plaas, met 58 spanne.

Noord-Kaapse uitnodigingstoernooi vir o.19-spanne in rugby, sokker en netbal is van 28 tot 30 April by die Hoërskool Diamantveld, waartydens 28 spanne speel.

Die o.14-, o.15- en o.16-junior rugbytoernooi vind by die B-veld van Diamantveld en Kimberley Boys’ High plaas, asook by die Laerskool Staats. Altesaam 66 spanne neem van 30 April tot 3 Mei hieraan deel.

Vanaf 30 April tot 3 Mei vind die senior o.16- en o.19-rugby- en netbaltoernooi met 58 spanne betrokke by Diamantveld plaas.

Die o.19-sokkertoernooi met 20 spanne word van 1 tot 3 Mei by die SPU aangebied, terwyl die o.19- uitnodigingshokkietoernooi vir seuns en meisies, met 16 spanne, ook in die tydperk by die SPU plaasvind.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article