Suid-Afrika se amptelike werkloosheidskoers het vir die eerste keer sedert die syfers gemeet word, tot meer as 30% gestyg – en dít in die kwartaal nog voordat die Covid-19-krisis die ekonomie tot stilstand geruk het.
Werkloosheid in die eerste kwartaal van 2020 was 30,1%, teenoor 29,1% aan die einde van 2019, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) pas bekend gemaak. Die uitgebreide werkloosheidkoers – wat ontmoedigde werkloses insluit – het opgeskiet tot 39,7%, teenoor 38,7% net ’n kwartaal vantevore.
Risenga Maluleke, statistikus-generaal, wys in voorleggings daarop dat die werkloosheidskoers altyd in die eerste kwartaal van die jaar styg – ’n kombinasie van nuwe matrikulante en studente wat die arbeidsmag betree en die tydelike werknemers wat in die vierde kwartaal vir die Kerstyd aangestel is, nuwe werk moet soek. In die formele sektor het 50 000 minder mense gewerk, en die landbou het 21 000 minder werknemers gehad. Nagenoeg 30 000 meer mense het in private huishoudings gewerk. Altesame het die aantal mense met werk met 38 000 gedaal.
Nagenoeg 7,1 miljoen Suid-Afrikaners soek werk en nog 2,9 miljoen het opgehou werk soek omdat hulle geen hoop het dat hulle werk sal kry nie. Nog 800 000 soek om ’n ander rede nie werk nie. Dit bring die aantal werkloses op 10,8 miljoen te staan – 416 000 méér mense as drie maande vantevore. Dis vergeleke met die 16,4 miljoen mense wat wel werk het. – Hanlie Stadler, Netwerk24