Prof. Andries Stulting, oftalmoloog, het in sy loopbaan die sig van duisende mense herstel. Ná sy aftrede werk hy steeds, nou in Kimberley. En ’n MBA in sy sak bemagtig hom verder, berig Marietjie Gericke.
Dié Suid-Afrikaanse oftalmoloog en 1996 se Bloemfonteiner van die Jaar het met katarak-operasies die sig van duisende mense herstel.
Naas sy lang lys eerbewyse en prestasies het hy hom onlangs weer onderskei deur ’n MBA-graad op 73 te behaal.
Dit terwyl hy die afgelope agt jaar ná aftrede die een pos ná die ander in die Noord-Kaap beklee het om steeds diensbaar aan die gemeenskap te wees.
Sy vrou, dr. Lemainé Fouché, werk ook ná aftrede as die forensiese hoofpatoloog in die Noord-Kaap. Die egpaar is slegs naweke by hul huis in Bloemfontein.
Ná sy aftrede in Augustus 2013 as die departementshoof van oftalmologie in die fakulteit geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein het verskeie deure vir hom oopgegaan, sê Stulting.
Noord-Kaap ‘verrykend’
“Ek was bevoorreg om ’n pos as oftalmoloog (oogspesialis) by die staatshospitaal in Kimberley te bekom aangesien daar ’n moratorium op die aanstelling van spesialiste in Bloemfontein was.
“Dit was ’n verrykende tydperk omdat ek behulpsaam kon wees met die opleiding van mediese beamptes in oftalmologie. Ons departement het weekliks uitreikbesoeke met ’n ligte Cessna-vliegtuig aan dorpe soos Upington, Calvinia, Kuruman, Springbok en De Aar gebring waar ons met post-operatiewe pasiënte van die hospitaal in Kimberley opgevolg het.
“Pasiënte met chroniese siektes, soos diabetes en hipertensie, is ondersoek en medikasie voorgeskryf. Sodoende is die groot druk op die staatshospitaal in Kimberley verlig.”
Stulting sê twee jaar later is dié pos weens finansiële oorwegings oorbodig verklaar. Ná 31 jaar diens in die openbare sektor het hy in die private praktyk van drie oftalmoloë in Kimberley begin werk.
“Ek het in 2017 die pos as kliniese hospitaalbestuurder by die Mediclinic-hospitale in Kimberley aanvaar, waar ek drie jaar gewerk het.”
Somme afgestof
Hy het in dié tyd besef daar is ’n leemte in sy ekonomiese kennis.
“Hoewel ek die private praktiserende geneeshere met hul mediese probleme behulpsaam kon wees, veral in die teaterkompleks, het ek verlore gevoel wanneer oor begrotings en ander finansiële aspekte gepraat word.”
Hy het hom toe vir ’n nagraadse diploma in sake-administrasie by die UV se Bestuurskool ingeskryf.
“Dit was ’n wonderlike ervaring om ná soveel jare as dosent weer ’n student te wees.
“Ek sal nooit vergeet hoe ’n lektor sy oog oor die nagenoeg 90 studente laat gaan het en my raakgesien het waar ek weens my ouderdom – dubbeld die gemiddelde ouderdom van klaslede – soos ’n seer duim uitgestaan het nie.
“Die lektor vra toe: ‘Meneer, is u seker dat u in die regte klas is? U lyk ietwat oud vir ’n klas in die ekonomie?’ ”
Ná die suksesvolle voltooiing van die kursus is hy gekeur vir ’n MBA-graad, ’n magistersgraad in sake-administrasie.
“Hier was die klas heelwat kleiner, met 20 studente. Partykeer was die kursus taaier as die taaiste toffie, maar ai, ons is buite ons gemaksone gedruk! Ek moes wiskunde wat ek in 1966 laas bestudeer het, weer afstof en boekhou leer wat ek nie as vak op skool gehad het nie.
“Op een dag is sommer vyf jaar se werk aangebied om almal op dieselfde bladsy te kry. Ek moes leer somme maak op ’n rekenaar en grafieke trek. Daar was die woordsomme, ’n nuwe manier van somme maak wat my brein getoets het.”
Genade ‘onverdiend’
In Maart 2020 het die koronaviruspandemie verdere uitdagings gebring en kon hulle nie meer fisiek klas bywoon nie.
“Ons moes die kursus aanlyn voltooi.”
Hy sê die onlangse gradeplegtigheid in Desember is op die laaste nippertjie na ’n virtuele gradeplegtigheid verander nadat die Omikron-variant van die koronavirus die ronde begin doen het.
“Ek was bevoorreg om ’n student in die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe te wees met voortreflike leermeesters en gewillige, ondersteunende klasmaats wat saam met my die pad geloop het en vir my ‘oom’ gesê het.”
Hy werk nou in ’n private praktyk in Kimberley as oftalmoloog en sê hy is bevoorreg om saam met ’n oudstudent van hom, dr. Jaco Maartens, sy loopbaan te kan voortsit.
“Ek is besig om die kringloop te voltooi en weet dat die uurglas vinnig besig is om leeg te loop. Ek wil graag vir die Hemelse Vader alle eer gee vir die vele onverdiende genadegawes wat ek so mildelik uit sy Vaderhand ontvang het. Ek was die instrument, terwyl Hy die groot Geneesheer was.”
Belangstellings wyd
Hy is ook geseënd om ’n liefdevolle gesin te hê, naamlik sy vrou, Lemainé, dogters, Lizette en Liesl, en skoonseun, Clinton Gladwin, wat hom te alle tye ondersteun en bystaan.
Stulting se stokperdjies sluit lees, skryf, klassieke musiek, fotografie en reis in.
Hy is ’n vurige Cheetah-rugbyondersteuner en het ’n versameling van ongeveer 150 rugbyboeke wat hy aan ’n rugbymuseum buite Stellenbosch wil skenk.
“Ek het die onlangse drama rondom Rassie Erasmus, die Suid-Afrikaanse Ruby-unie (Saru) se direkteur van afrigting, en die Leeutoer geweldig geniet,” sê hy.
Sy groot boekeversameling sluit gedenkalbums van die Voortrekkermonument in Pretoria en boeke oor die Anglo-Boereoorlog in.
Hy lees graag fiksie én niefiksie. Thinking the Future van Clem Sunter en Mitch Ilbury is op die oomblik aan die beurt.
“Dit leer dat ’n mens nie die toekoms volgens een scenario moet voorspel nie, maar volgens verskeie scenario’s. Daarna moet jy besluit watter een jy gaan volg.”
Stulting het op sy dag 70 lande besoek, waarvan hy in 24 as ’n spreker, katarakchirurg en eksterne eksaminator gewerk het.
‘Katarakblitse’ bekend
Stulting het die MB ChB-grade in 1973 en die MMed- (Ophth) graad (cum laude) in 1981 aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
In 1982 is hy as hoof van die departement oftalmologie aan die UV aangestel, waar hy aan die einde van Augustus 2013 ná 31 jaar as emeritus professor afgetree het.
Hy was bekend om sy “katarakblitse” by die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein. Dit het behels dat ’n span kundiges vir ’n bepaalde tydperk net katarakoperasies doen op mense wat dit andersins nie sou kon bekostig nie.
Tydens sy loopbaan was hy ’n lid van en ’n leier in talle nasionale en internasionale verenigings waar hy met onderskeiding gedien het.
Naas talle ander eerbewyse het hy die Eeufees-medalje van die UV in 1994 ontvang, asook verskeie eerbewyse van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging.