Alberto Linden Matthews (47) is effektief 30 jaar tronk toe gestuur nadat hy onder meer skuldig bevind is dat hy sy eksvrou, Mandy Bailey (43), op 27 Desember 2023 by haar huis in Beaconsfield, Kimberley met ʼn verbode 7.65 mm pistool doodgeskiet het.
Alberto Linden Matthews (47) is effektief 30 jaar tronk toe gestuur nadat hy onder meer skuldig bevind is dat hy sy eksvrou, Mandy Bailey, doodgeskiet het. FOTO: Charné Kemp

KIMBERLEY – Kollegas, familie en vriende van Mandy Bailey, wat net meer as twee jaar gelede deur haar eks-man in haar bed in haar Beaconsfield-huis in Kimberley voor haar minderjarige dogter doodgeskiet is, het Donderdag by haar graf gaan bid nadat haar moordenaar effektief 30 jaar tronk toe gestuur is.

Mense in die volgepakte galery van die hooggeregshof in Kimberley het hul verligting getoon; ander het begin huil; terwyl die moordenaar sy vinger in sy mond gedruk en sy voorkop op plooie getrek het.

Waarnemende regter Danie Olivier het Donderdagoggend nie doekies in sy vonnisoplegging omgedraai nie. Hy het bevind dat Alberto Linden Matthews (47), ondanks ʼn voorvonnisverslag waarin hy sy berou en begeerte uitspreek dat die familie hom moet vergewe, nie werklik berouvol is nie.

Familielede van Bailey was verlig, maar het gehuil toe Alberto Linden Matthews effektief 30 jaar tronk toe gestuur is.
Emosionele familielede van Mandy Bailey was verlig, maar het en terselfdertyd  gehuil nadat Alberto Linden Matthews (47) effektief 30 jaar tronk toe gestuur is nadat hy Bailey (43) doodgeskiet het. FOTO: Charné Kemp

Mathews is verlede jaar onder meer aan moord skuldig bevind dat hy Bailey (43) op 27 Desember 2023 by haar huis met ʼn verbode 7.65 mm pistool doodgeskiet het. Hy was ook onwettig in besit van die vuurwapen en ammunisie, en het die vuurwapen op twee familielede gerig. Hy het boonop die beskermingsbevel wat Bailey weke voor die voorval teen hom verkry het, oortree. Dit is ook openbaar dat hy ʼn vorige veroordeling in 2016 het van vier jaar gevangenisstraf vir poging tot moord omdat hy op ʼn eksmeisie geskiet het.

Vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie, is Mathews gesamentlik vyf jaar gevangenisstraf opgelê, en vir die besit van ʼn onwettige vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is, tien jaar. Vir die oortreding van ʼn beskermingsbevel moet hy twee jaar agter tralies deurbring en vir Bailey se moord, 20 jaar. 

Al dié vonnisse sal samelopend uitgedien word. Vir die twee aanklagte dat hy ʼn vuurwapen op haar familielede gerig het, het hy gesamentlik tien jaar gevangenisstraf ontvang. Laasgenoemde vonnis sal opeenvolgend wees, wat beteken hy moet effektief 30 jaar agter tralies deurbring.

Voorts is gelas dat die familie ʼn inset moet lewer by die paroolraad, sou Mathews eendag in aanmerking kom vir vrylating op parool.

Mathews se optrede tydens die gebeure en weerstrewige houding in die hof laat geen twyfel dat hy nie werklik berou
het nie. –  Regter Danie Olivier

Regter Olivier het gesê strafuitmeting in dié opspraakwekkende saak moet toepaslik, genadig, regverdig en in belang van die oortreder en die gemeenskap wees. Die hof durf nie deur emosie of openbare sentiment gelei word met vonnisoplegging nie.

Desondanks groei die moordsyfer op vroue in Suid-Afrika, wat onaanvaarbaar is.  ʼn Boodskap moet aan oortreders of mense wat oorweeg om die wet te oortree, oorgedra word.

“Mathews se optrede tydens die gebeure en weerstrewige houding in die hof laat geen twyfel dat hy nie werklik berou het nie,” het die regter bevind. Hoewel die staat nie kon bewys die moord is met voorbedagte rade gepleeg nie, sou die kwesbare Bailey nog geleef het as hy nie ʼn vuurwapen na haar huis bring het nie.

Dat hy sy stilswye gehandhaaf het en nie ter strafversagting getuig het nie, kan nie in ʼn positiewe lig gesien word nie. Hy het nie die hof in sy vertroue geneem oor wat hom tot die dade gedwing het nie. Voorts het hy klaarblyklik nie uit sy vorige veroordeling vir ʼn soortgelyke daad  ʼn les geleer nie en het hy ʼn gruwelike moord gepleeg.

ʼn Gepaste vonnis sal die gemeenskap se vertroue in die regstelsel help verbeter, het die regter bevind.

Ter strafverswaring het Bailey se suster Ronel Bailey vroeër vandeesweek getuig, asook die oorledene se minderjarige dogter. Dit blyk die moord het die familie uitmekaar geskeur. Hulle ervaar geldelike probleme en emosionele trauma. Van hulle ly aan depressie en een is met post-traumatiese stresversteuring gediagnoseer. Die een dogter het stil geword en sukkel met haar skoolwerk.

Die familielede is van links, Clement Cupido, Erin Cupido, Amy Topez, Ronel Bailey, Mark Kotze en Wesley Bailey.
Adv. Leshnee Pillay, aanklaer en afgetrede lt.kol. Doggy Magugu, ondersoekbeampte verduidelik aan Mandy Bailey se familielede wat die vonnisoplegging van haar moordenaar inhou. Die familielede is van links, Clement Cupido, Erin Cupido, Amy Topez, Ronel Bailey, Mark Kotze en Wesley Bailey.  FOTO: Charné Kemp

Die tragiese gebeure het ʼn aanloop gehad. Matthews en Bailey was reeds twee jaar vantevore geskei. In November 2023 het hy na haar huis aangekom, waarna ʼn struweling ontstaan het. Bailey het ʼn beskermingbevel teen hom bekom, wat op 11 Desember op hom beteken is. Op die dag van die voorval tussen 27 en 28 Desember is hy met die vuurwapen na Bailey se huis. ʼn Rusie het met haar familielede uitgebreek, waarna hy Bailey twee keer in haar kamer voor haar dogter (6) geskiet het.

LEES OOK: Matthews skuldig bevind aan skietdood van sy gewese vrou

Daarna het hy die vuurwapen op haar broer en sy dogter gerig, voor hy weg is. Die polisie het hom toe by sy niggie se huis opgespoor, met die betrokke vuurwapen in sy baadjie se sak. Hy het teenoor sy niggie gebieg dat hy “iets vreeslik” aangevang het.

Adv.  Leshnee Pillay het aangekla, en adv. Obatlile Maroke het Matthews verdedig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article