Verskeie borge is by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie betrokke.

Credit: Helena Barnard

mvdj

Die naweek van die finale beoordeling is darem nie net ernstig en spanningsvol nie! Daar is genoeg tyd om mekaar te leer ken en ook ’n bietjie pret te hê, soos verlede jaar se groep finaliste. In die voorste ry is van links Riandré Nel, Niël van der Walt (wenner 2021), Duan Maritz, Rianette Kemp en Pieter Hoogenboezem (wenner 2019).

Met minder as drie weke oor voor die sluitingsdatum vir inskrywing vir die 41ste Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksblad, moet voornemende Kovsies nou wikkel om hulle hiervoor in te skryf.

Prysgeld en beurse van derduisende rande is op die spel vir die 25 semifinaliste in dié kompetisie, waaraan gr. 12-leerlinge van oor die land heen kan deelneem. 

Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 5 Augustus.

Die wenner en 13 finaliste ontvang geborgde prysgeld van die Kovsie Alumni-trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, en bywoning van die eindronde-geleentheid in Bloemfontein, asook geskenke ter waarde van R10 000. 

Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van die Kovsie Alumni-trust en beurse van UV Studentewerwingsdienste. 

Matrikulante wat akademies presteer, en ook by sport, leierskap en kultuur by hul skool betrokke is, kan hulle inskryf. Leerlinge se gemeenskapsdiens en -betrokkenheid word ook tydens die beoordeling in ag geneem.

Matrikulante kan hulself inskryf of hul skool kan dit doen. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet egter op die vorm aangebring word.

Alle inskrywings word volgens vaste kriteria beoordee.

Altesaam 14 finaliste neem van 4 tot 6 Oktober aan die eindronde in Bloemfontein deel. In die eindronde word onderhoude met die finaliste gevoer en neem hulle aan spansessies deel, waarna die wenner aangewys word.

Twee spesiale pryse van R5 000 elk, geborg deur die Kovsie Alumni-trust, sal toegeken word vir uitstaande prestasie op die gebied van leierskap, akademie, sport of kultuur.

Die beurse en prysgeld word betaal sodra die student hom of haar aan die UV geregistreer het. 

Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur ’n e-pos na Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.

MvdJ

Verskeie borge is by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie betrokke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article