Van die matrikulante aan die Hoërskool S.A. van Wyk in Springbok, besig om by kerslig te studeer. Dit was voordat hulle die herlaaibare ligte van ’n plaaslike laerskool ontvang het.

Foto: Facebook/SA van Wyk Hoërskool Offisieel Credit: SYSTEM

In Springbok in die Namakwaland-distrik van die Noord-Kaap hoef die meerderheid van die 22 matrikulante aan die Hoërskool S.A. van Wyk nie meer in die lig van hul selfone of kerse te studeer nie, ná ’n skenking van 15 herlaaibare ligte.

Die skenking van die Laerskool Dr. Izak van Niekerk, ook van Springbok, volg op ’n plasing van ’n onderwyseres aan die hoërskool oor hoe beurtkrag die matrikulante se studietyd omvergooi, en dat alternatiewe ligbronne nie altyd geredelik in hul huis of gemeenskap beskikbaar is nie. Vir hulle is dit weens verskeie redes beter om by die skool te studeer.

Van die matrikulante aan die Hoërskool S.A. van Wyk in Springbok, besig om by kerslig te studeer. Dit was voordat hulle die herlaaibare ligte van ’n plaaslike laerskool ontvang het.

Jana Smit berig dat die skool 22 matrikulante het, waarvan 14 by die skool oornag. Dié reëling om die matrikulante te help het in 2019 begin toe ’n onderwyser gereël het dat sy en die matrieks tydens die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) by die skool kan oornag.

Die kinders slaap op ou matrasse wat gebruik is toe die skool nog ’n koshuis gehad het, en hulle maak op ’n gasstoof vir die kinders kos wat geskenk word, en soms laai ouers ook kos af.

Die skool het nie ’n kragopwekker nie.

In die Facebook-plasing word die matrikulante se ongelooflike veerkragtigheid en vasberadenheid geprys.

Die onderwys­departement het voor die aanvang van die NSS-eksamen ’n versoek aan Eskom gerig om beurtkrag op te skort op dae wanneer vakke soos inligtings­tegnologie (IT) wat elektrisiteit benodig, geskryf word. Eskom kon egter nie verseker dat dit so sal kan gebeur nie.

You need to be Logged In to leave a comment.