Meralize Perry hou Kaylin vas.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Meralize Perry (19), ’n matrikulant aan die Hoërskool Veritas in De Aar, het oornag roem verwerf nadat sy verlede week gehelp het om haar buurvrou Megan Pieterse se baba­ in die lewe te bring.

Klein Kaylin se geboorte op 7 Februarie was egter nie die eerste waar Meralize bygestaan en gehelp het nie. Sowat twee jaar gelede het sy haar tannie met ’n geboorte bygestaan.

Meralize was die Dinsdagoggend laat vir skool. Die hekke was reeds gesluit toe sy daar aankom, en sy moes terugkeer huis toe.

Sy het pas by die huis gekom toe Pieterse se man, Mannetjies, by hul huis inhardloop en vra hulle moet kom help.

Meralize en haar tannie, Chrissie Mankai, het na Pieterse se huis gehardloop. Hulle het probeer om die ambulans te ontbied, maar is ingelig dat die ambulans glo onklaar is.

Pieterse se kraampyne het erger geraak en Meralize het geen ander keuse gehad nie as om te help.

Meralize sê dit was ’n oorweldigende oomblik toe sy besef die baba is veilig gebore.

“Ek het in trane uitgebars en haar net vasgedruk.”

Sy het die baba omgedop en haar saggies agter haar blaaie getik sodat die slym uit haar longe kon kom.

“Toe skreeu sy net soos ’n babatjie moet.”

Die ma was baie verlig en dankbaar. Kaylin is haar vierde kind en met haar derde kind het sy op pad na die hospitaal gekraam.

Om te wys hoe dankbaar sy vir Meralize se hulp is, het sy haar gevra om die baba se naam te kies.

Meralize het op Kaylin Lee-Shay besluit. Dit is van haar maats se name en sy sê sy is trots dat Kaylin hul name het.

Sy vertel toe sy destyds haar tannie se seun Janbro gevang het, het dinge vinnig gebeur. Haar tante het geskree die baba kom en Meralize sê iets het oor haar gekom wat haar in staat gestel het om beheer te neem.

“Ek het besef ek moet my hart vasmaak en haar help.”

Dit was ’n moeilike geboorte. Janbro is voete eerste gebore.

“Ek het vir my tannie gesê sy moet twee keer inasem en uitasem. Daarna moes sy druk dat die baba kan kom.”

Meralize wil graag ’n rekenmeester word, en haar gunsteling-skoolvakke is besigheidstudie en ekonomie.

Ná Dinsdag oorweeg sy verpleegkunde.

Sy is skaam oor die roem wat sy verwerf het en mense wat haar nou “suster Perry” noem.

Haar maats is so trots op haar dat hulle stry oor of sy ’n verpleegster of ’n dokter moet word.

“Maar nou wil ek hard werk en baie goeie punte kry, want ek wil my ouers gelukkig sien.”

Jenny Titus, adjunk-hoofonderwyskundige by die Noord-Kaapse onderwys­departement en ’n oud­onderwyser van die Hoërskool Veritas, het aangebied om Meralize se aansoekgeld te betaal, sou sy besluit om verpleegkunde te studeer.

Zolile Monakali, LUR vir onderwys, het die Pixley Ka Seme-distrikskantoor vir onderwys en Veritas versoek om ondersteuning aan Meralize in haar matriekjaar te gee en gesê hulle moet haar help om voor te berei vir verdere studie.

Anena Burger

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article