Michael de Bruyn, oud-hoofseun van die Futurum Akademie buite Jan Kempdorp, is nommer twee op die lys van die 20 topleerlinge in die Noord-Kaap.
De Bruyn was ook Volksblad/Netwerk24 en die UV se Matrikulant van die Jaar vir 2023.
Hy het as jong tiener sy eie besigheid begin waarin hy swierige geleentheidskoeke vir gevestigde kliënte gebak en versier het. Die besigheid is in die laaste jare opsy gesit sodat hy op sy akademie kon konsentreer.
De Bruyn, wat sewe onderskeidings en die eerbewys vir die beste leerling in fisiese wetenskap ontvang het, is tevrede met sy prestasie.
“Ek het nie gedink ek gaan een van die top tien wees nie, wat nog te sê nommer twee. Ek dink ek het hard gewerk, ernstig studeer en met alles bygehou.
“Ek glo aan ’n werk- en persoonlikelewe-balans. Teen 21:00 was dit ligte uit, of ek genoeg geleer het of nie, ek het gaan slaap. ’n Goeie nagrus en genoeg tyd saam met familie en vriende, en jy moet gesond en genoeg eet.
“ ’n Mens is geneig om nie te eet as jy onder druk is nie. Jy moet asem skep as dinge rof raak. Hou die balans, al vreet die akademie jou op.
“Ek het al baie goeie sakgeld gemaak met my koek-besigheid. Maar ek kan nie tot middernag koek versier en dan die volgende dag ’n toets skryf nie.”
Hy het die vorige drie jaar hokkie vir die eerste span gespeel, en aan radikale redenaars- en ATKV-redenaarskompetisies deelgeneem. De Bruyn sou ná die geleentheid saam met sy geliefde ouma en oupa ’n roomys gaan eet.
“Hulle sou baie
graag die geleentheid wou bywoon. Hulle het soveel op my vertrou en speel ’n
groot rol in my lewe.
“My ouma sê ook die prestasies moet nie na ’n mens se kop toe gaan nie. Daardie oomblik het jy presteer, en dan gaan die lewe aan en jy moet hard werk aan die volgende mylpaal.”
Sy ouers is Bennie de Bruyn, ’n prokureur, en Suray de Bruyn, ’n onderwyser. Hy het ook ’n jonger broer, Blaine.


