Hoewel die matriekslaagsyfer in die Noord-Kaap sedert 2020 bestendige groei getoon het, is verlede week klem daarop gelê dat dié provinsie weer die slaagsyfer-agteros is.

Op Vrydag 19 Januarie is dié uitslae deur die loop van ’n deurmekaar seremonie in die Mittah Seperepere-konferensie­sentrum in Kimberley bekend gemaak.

Klem is gelê op die 1,6% groei in die slaagsyfer – van 74,2% in 2022 tot 75,8% in 2023. Dié slaagsyfer is onder die nasionale gemiddeld van 82,9% en die laagste van alle provinsies.

Vir die bekendmaking van die uitslae is die sentrum deur 2023-matrikulante van Kimberley gevul. Daar was geen manier hoe verrigtinge op die afgespreekte tyd kon begin nie; nie met die groot aantal voertuie en busse wat na die sentrum gestroom het nie.

Dit was steurend dat talle van die matrikulante tydens die verrigtinge onophoudelik gepraat het – selfs terwyl die toesprake gelewer is. Dit laat ’n mens kriewelrig wonder of die jeugdiges geen ontsag vir seremonie het nie. ’n Mens het gewonder waarom hulle nie deur hul onderwysers stilgemaak is nie.

(Dit was wel verblydend om te sien dat leerlinge van onder meer die Kimberley Boys’ High School ag op die aankondiger se versoeke geslaan het.)

Boonop was dit opmerklik dat talle van die matrikulante ná die verrigtinge gekies het om eers hul beloofde kospakkies in ontvangs te neem, eerder as om dadelik hul uitslae te kry. Dit was onvermyde­lik om ’n parallel te trek tussen kospakkies wat voor en tydens ’n verkiesing uitgedeel word, gedagtig aan die komende verkiesing en dié jeugdiges wat die eerste keer sal kan stem.

Eers in die tweede deel van die bekendmaking van die uitslae, in die Taberna Dei, het die fokus na leerlinge en hul prestasies verskuif – dit waaroor dit eintlik gaan.

Vir elkeen van die matrikulante van 2023, ongeag die vlak van individuele uitslae, wens ’n mens dit toe om goeie landsburgers te word; iets waarvoor die leerproses nooit ophou nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article