Marco (Marthinus) Engels van die Hoërskool Duineveld in Upington beklee die vyfde plek op die lys van die 20 topkandidate, en het sewe onderskeidings behaal.
Hy is ook as die beste matrikulant in inligtingstegnologie (IT) aangewys en begin binnekort met sy IT-studies aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom.
Deel van sy resep vir sy akademiese sukses was om hard vir die eindeksamen te leer en hy het baie ou vraestelle uitgewerk om voorbereid te wees.
“Een ding van skoollewe waarna ek sal verlang is die vriende wat ek oor die jare gemaak het, omdat almal nou in verskillende rigtings gaan,” vertel hy.
Tog sien hy uit na die nuwe ervarings wat studentelewe inhou.
Vir die toekoms hoop hy dat daar baie minder beurtkrag sal wees, veral ook “omdat ek baie meer op rekenaars sal moet werk. Beurtkrag het dit ook baie moeiliker gemaak om te leer vir my finale skool-eksamen,” sê hy.


