Die Noord-Kaap se topmatrikulant, Lize-Mari Loots, by haar ouers, Ria en Riaan Loots van Kimberley.

Foto: Helena Barnard

Die Noord-Kaap se topmatrikulant vir 2022 is Lize-Mari Loots van die Hoërskool Diamantveld in Kimberley.

Lize-Mari, wat met ’n gemiddeld van 93% geslaag het, het sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal, en is ook as die toppresteerder in toerisme aangewys.

Sy het haar ingeskryf vir ’n graad in ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria (UP), waar sy die eerste jaar bedryfsingenieurswese gaan studeer, en vanaf haar tweede jaar meganiese ingenieurswese.

“Harde werk en baie leer” het tot haar akademiese prestasie bygedra, sê sy.

“Ek het soveel as moontlik geleer, ekstra klasse bygewoon, ekstra oefeninge gedoen en deur my hele skoolloopbaan seker gemaak dat ek nooit agter raak met die werk nie.

“Ek het my tyd vir elke toets goed bestuur en ook langer gefokus op dié dele van die werk waarmee ek gesukkel het.”
Lize-Mari Loots

Lize-Mari het ook verseker dat sy ’n balans tussen leer en ontspanning handhaaf sodat sy nie haar brein en liggaam ooreis en dan geen krag vir die laaste toetse het nie.

Verder het sy alles wat haar aandag kon aftrek verwyder uit die vertrek waar sy geleer het, om fokus te behou.

Lize-Mari sê sy gaan beslis haar vriende saam met wie sy al die jare skoolgegaan het en wat sy byna elke dag gesien het, mis, en “ook sommige onderwysers wat nooit gehuiwer het om die ekstra myl te stap om leerlinge te help nie.

“Ek sal ook die voorreg om uit die huis uit skool te gaan en elke dag my gesin en geliefdes te sien, baie mis.”

Tog sien sy daarna uit om nuwe mense en vriende te by die universiteit te ontmoet en die studentelewe te ervaar.

“Ek sien ook daarna uit om iets te leer waarin ek belang stel.”

Vir die toekoms hoop sy dat toegang tot hoëronderwysinstellings gratis sal wees vir almal wat bereid is om hard te werk en die vermoë het om sukses in hul studie te behaal – ongeag velkleur of herkoms.

Sy is oortuig dat baie talent verlore gaan omdat mense weens geldelike redes nie die geleentheid kry om te studeer nie.

“Daar moet ook meer gedoen word om leerlinge te motiveer om skool te gaan.

“Ons land het die potensiaal om baie vinniger en beter te ontwikkel as meer mense die geleentheid kry om verder te studeer en ’n goeie geleerdheid te hê.”

Lize-Mari is van haar gr. 8-skooljaar af jaarliks as die toppresteerder in haar graad aangewys, en het verskeie ander eerbewyse as toppresteerder ontvang, onder meer vir wiskunde-toernooie en programme.

Sy het netbal, atletiek en fietsry beoefen en het vakansiewerk by onder meer veeartseny­praktyke en die plaaslike tak van die DBV gedoen.

Lize-Mari het boonop skaduwerk by ’n ingenieursfirma in Kimberley gedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article