Suid-Afrikaners kan dalk binnekort buitelugbyeenkomste geniet sonder om ’n masker te dra.
Volgens Prof. Salim Abdool Karim, epidemioloog en lid van die Wêreldgesondheidsorganisasie se wetenskapsraad, het die regering nou ’n geleentheid om die verslapping van regulasies hieroor te oorweeg. Die land is tussen virusvlae en die oordrag van die virus is laag.
“Ons is nou in ’n ander situasie as twee jaar gelede (toe die pandemie in Suid-Afrika begin het). Ons verstaan die virus beter en weet dit kom in vlae. Daar is drie maande tussen die vlae, en daarom kan ons nou sekere regulasies soos die dra van maskers in die buitelug verslap terwyl die oordrag laag is,” sê Abdool Karim.
Onder meer Frankryk en Amerika het regulasies verslap, “en daar was geen groot uitbrekings nie”.
Maskers sal egter steeds binnenshuis gedra moet word.
Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het verlede week gesê die regulasie oor die dra van maskers in die buitelug sal op die Covid-19-bevelsraad se volgende vergadering bespreek word.
Dr. Jo Barnes, ’n epidemioloog verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, waarsku egter dit gaan moeilik wees om mense weer te kry om maskers te dra indien ’n nuwe vlaag uitbreek.
Abdool Karmin voorspel dat die vyfde vlaag die land einde April sal tref, met nog nuwe variante.
“Ek weet ons het genoeg van die virus gehad, maar die virus is nog nie met ons klaar nie.”

