Lede van die polisie se soek-en-reddingspan red ’n man uit ’n waterreservoir in Delportshoop.

Vier lewendige skape is Maandag (20/03) in die bagasieruim van ’n wit Renault Cleo-voertuig gevind ná ’n jaagtog tussen Noord-Kaapse polisielede en verdagtes.

Volgens sers. Omphile Masegela van die polisie se kommunikasie-afdeling in Upington, het polisielede op die dag inligting ontvang oor ’n voertuig op die Askham-pad wat vier skape vervoer.

Die verdagte voertuig is ongeveer 10 km buite Upington opgemerk, waarna die verdagtes in die Renault-voertuig weggejaag het.

Polisielede kon wel die voertuig stop, en het die vier skape agter in die bagasieruim gevind. Die insittendes van die voertuig kon die eienaarskap van die skape bewys nie.

Inligting oor die voertuig is deur die polisie sirkuleer, waartydens dit bevind is dat die voertuig in Kaapstad as gesteel aangemeld is.

Die polisie het vier mans en ’n vrou, met ouderdomme wat wissel van 29 tot 36, in hegtenis geneem.

Die verdagtes is van veediefstal en die besit van gesteelde eiendom aangekla. Hulle sal binnekort in die hof in Upington verskyn.

  • In ’n ander nie-verwante voorval moes lede van die Noord-Kaapse soek-en-reddingspan Maandagaand (20/03) ’n 19-jarige man uit ’n waterreservoir by Delportshoop red.

Lt. kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê dié man het glo omstreeks 18:30 in die reservoir gespring.

’n Sekuriteitswag op die perseel het die man se klere en ander besittings langs die reservoir opgemerk, en die polisie in kennis gestel.

Kapt. John Seeley, die provinsiale bevelvoerder van die soek-en-reddingspan, het onverwyld saam met ander spanlede uit Kimberley gery en die man uit die reservoir gered.

Hulle het hom ongedeerd gevind waar hy aan ’n paal in die reservoir gehang het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article