Man vas ná flink optrede

Dae nadat ’n blinde bejaarde vrou in haar huis in Siyathemba verkrag is, is haar vermeende verkragter in Olifantshoek vasgetrek.


Dae nadat ’n blinde bejaarde vrou in haar huis in Siyathemba verkrag is, is haar vermeende verkragter in Olifantshoek vasgetrek.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, het die voorval op Jeugdag (16/06) gebeur nadat die vrou (74) se kleindogter en dié se kêrel in ’n hewige rusie betrokke geraak het.

Nadat die onderonsie glo geweldadig geraak het, het die kleindogter en haar suster gevlug en hul ouma agtergelaat.

Die blinde ouma is na bewering daarna verkrag.

Ramatseba sê lede van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele oortredings (GKS) in Kathu het met die misdaadintelligensie-eenheid, die Olifantshoek-polisiekantoor en speurders saamgewerk om die man vas te trek.

Volgens Ramatseba is daar onmiddellik tot ’n aksieplan van 72 uur oorgegaan om die verdagte vas te trek.

Die 32-jarige man is Donderdagoggend, 18 Junie, in die omgewing van Olifantshoek in hegtenis geneem.

Ramatseba sê die verdagte sal binnekort in die hof verskyn en ’n aansoek om borgtog sal teengestaan word.

Lt.genl. Risimati Peter Shivuri, provinsiale polisiekommissaris, het die lede vir hul vinnige optrede en spanwerk om die verdagte vas te trek bedank.

Shivuri sê misdaad teen vroue en kinders, en meer spesifiek bejaardes, sal nie geduld word nie.

“Geen moeite sal ontsien word om oortreders vas te trek nie en hulle sal nié die reg vryspring nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.