’n Inwoner van Springbok is in hegtenis geneem vir die oortreding van die tweedehandse- en skrootmetaal-handelaarswet.

’n Man van Bergsig, Springbok, is vandeesweek in hegtenis geneem vir beweerde onwettige skrootmetaalbedrywighede.

Die 62-jarige man is Dinsdag 21 Maart aangekeer terwyl polisielede van die Namakwa-distrik besig met hoëdigtheidsoperasies was.

’n Lasbrief is bekom, en die polisielede het beslag gelê op ’n aansienlike hoeveelheid nie-ysterhoudende metale, insluitend koper, aluminium, geelkoper en saamgeperste tin met ‘n geraamde waarde van R75 131.

Die polisielede van die Openbare Orde Polisiëring, onder bevel van kol. Kholakele Sontsi, is aanvanklik deur gemeenskapslede wat bande en puin gebrand het, verhinder om hul plig uit te voer. Die poging het egter misluk.

Sers. Timothy Sam, polisiewoordvoerder, sê die verdagte is vir die oortreding van die tweedehandse- en skrootmetaal-handelaarswet aangekla, asook vir die besit van beweerde gesteelde eiendom.

Hy sal na verwagting binnekort in die Springbok-landdroshof verskyn.

Die Namakwa-distriksbevelvoerder, brig. Schalk Andrews, het die Bergsig-gemeenskap en ander belanghebbendes bedank vir hul aktiewe deelname om misdaad te help beveg.

“Handel in gesteelde goedere is ’n misdaad. As ’n gemeenskap moet ons verantwoordelik wees en nie met gesteelde goedere handeldryf nie,” sê Andrews.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article