Danie Pelser het dele van twee van sy vingers verloor in ‘n fratsongeluk. FOTO: Lientjie Mentz

‘n Man van Bloemfontein se heldedaad om ‘n kind uit die pad van die propeller van ‘n modelvliegtuig te stamp, het hom drie van sy vingers gekos.

Danie Pelser, ‘n sakeman van Bloemfontein en lid van die Central Radio Flyers (CRF) was Sondag 31 Augustus saam met sy vrou, Kuramé-Lee, en haar seuntjie (10) by die CRF-vliegveld naby die suidelike stortingsterrein.

Danie is al vir meer as 20 jaar ‘n ywerige modelvliegtuig-bouer en het in ‘n stadium meer as 96 modelvliegtuie gehad. Ná ‘n breuk van ‘n paar jaar, het hy twee maande gelede weer by die klub aangesluit. Dié Sondag het hy met ‘n 111cc Extra 630-vliegtuig gevlieg.

“Daar was nogal sterk winde, maar dit is wanneer ons die lekkerste speel,” vertel hy oor die dag. Hy het die petrolvliegtuig ‘n paar keer laat opstyg en land. Met die laaste landing uit die suide, het ek die vliegtuig omgedraai om die pit stop na die parkeerterrein te stuur. Die vliegtuig het stadig verby ons gekom toe die wind skielik die stert ompluk en die vliegtuig reg op ons afkom.”

Kuramé-Lee vertel: “Danie het geskreeu dat ons moet padgee. Met dié dat Danie my seuntjie uit die pad wou stoot, het hy met sy ander hand aan die propeller geraak. Die vliegtuig het vir ons gekom en al wat hy kon doen dat my kind nie seerkry nie, was om met sy hand te keer.”

Die volgende oomblik het diet bloed uit Danie se hand gespuit. Kuramé-Lee sê hulle kon twee vingers optel en het dit dadelik op ys gesit. Almal was in skok. Hulle het probeer om die bloed te keer. Danie het daarop aangedring om self hospitaal toe te ry.

Danie Pelser se vingers ná die fratsongeluk. Sy middelvinger kon weer geheg word, maar dit is nie nou vas aan die been nie. Die medici by Pelonomi het nie sy vingers wat op ys was, vasgewerk nie. FOTO: Verskaf


Hulle is eers na die Nasionaal-hospitaal, maar omdat dié hospitaal nie trauma-gevalle hanteer nie, is hulle later Pelonomi-hospitaal toe. Wéér het Danie self bestuur.

By die Pelonomi-hospitaal het Danie bykans ‘n halfuur gewag voordat hulle vir hom pynmedikasie gegee het. Hoewel Kuramé-Lee die vingers wat afgeruk was by haar op ys gehad het, is die vingers nie vasgewerk nie. Die punt van sy middelvinger is wel in ‘n operasie weer vasgewerk, maar sy ringvinger en pinkie se punte is net toegewerk. Danie sê hy verduur nou – byna ‘n maand later – nog hewige pyn.

Vriende van die Pelser-egpaar wil nou graag geld insamel om vir Danie met rehabilitasie en fisioterapie te help. Charl Boshoff, ‘n vriend wat voor Danie grootgeword het, reël ‘n geselligheid op 9 Oktober om 18:30 by The Barn by die Bloemskou-gronde.

“Oom Danie is soos ‘n pa vir my en ek kyk op na hom. Ons wil graag met die geleentheid Ride for Danie geld insamel om hom met sy mediese koste te help,” sê hy.

Rig navrae oor die geleentheid by Charl by 067 117 2737.

Danie pelser se vingers is aan flarde geruk deur die propeller van ‘n modelvliegtuig nadat hy ‘n seun uit die pad van ‘n aankomende modelvliegtuig gestamp het. FOTO: Lientjie Mentz

You need to be Logged In to leave a comment.